Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen die man van Smartie Town op Oudtshoorn wat daarvan aangekla word dat hy sy meisie in 2016 wreed vermoor en verkrag het, is Vrydag in die streekhof, na die getuienis van een van die ooggetuies, vir verdere verhoor tot Desember uitgestel.
'n 18-jarige ma-triekleerder het Vrydag getuig dat hy gesien het hoe die beskuldigde, Siphamandla Claassen (24), die aand van 8 Oktober 2016 die 26-jarige Juliana Lingerveldt met 'n klip teen die kop gekap, haar klere uitgetrek en verkrag het. Haar naakte liggaam is die volgende dag in die veld naby die volstruisslagpale gevind. Sy was die ma van twee seuns.
Claassen pleit onskuldig op die aanklag van moord en verkragting, maar wel skuldig op 'n alternatiewe aanklag van strafbare manslag.
Hy erken in 'n pleitverduideliking dat hy Lingerveldt een keer met 'n klip teen die kop gekap het. Dit was tydens 'n woordewisseling nadat Lingerveldt hom glo van ontrouheid beskuldig het.
Die geneesheer wat die lykskouing gehou het, dr. Mariana Winterbach, het egter getuig dat daar twee houe aan die oorledene se kop was wat die brein beskadig het.
Die saak word deur streeklanddros JC Nortje aangehoor en is vir verdere verhoor tot 6 Desember uitgestel.
Corné Pretorius verskyn vir die staat en Eugene Roos, in opdrag van die Regshulpraad, namens die beskuldigde.
Claassen bly in aanhouding.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'