OUDTSHOORN NUUS - Gerugte wat tans die ronde doen dat die Bridgton-biblioteek gaan sluit is onwaar.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, is hulle bewus daarvan dat 'n individu gerugte versprei dat die biblioteek gaan toemaak, maar dié gerugte is onwaar.
"Dit is onverantwoordelik dat 'n 'gemeenskapsorganisasie' inligting onverskillig versprei. Dit het beslis die potensiaal om paniek te veroorsaak en met mense se emosies te speel. Dit is onaanvaarbaar en dit moet stop, want dit is nie net oneties nie, maar ook misleidend," het hy in 'n verklaring gesê.
Volgens hom is iets soos die sluiting van 'n biblioteek groot nuus en sal dit eers met die gemeenskap bespreek word. Biblioteekdienste val ook onder die dienste Wes-Kaapse provinsie en het die munisipaliteit nie die mandaat om die biblioteek te sluit nie.
"Die munisipaliteit het wel verlede week op sosiale media gesê dat alle biblioteke tydelik gesluit sal wees tot die president weer met die land praat. Die tydelike sluiting kom na die president se aankondiging dat die land na vlak-4-inperking geskuif het. Die volgende aankondiging deur die president behoort 11 Julie te wees."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'