Die 23-jarige Edward Zaayman en sy 24 jarige vrou Amonique is voorgekeer in twee motors wat hulle verlede week in Port Elizabeth "gekoop" het en in Oudtshoorn en George van die hand probeer sit het. Zaayman is op die toneel gearresteer nadat 'n plaaslike motorhandelaar 'n klag van bedrog gelê het vir twee ander voertuie wat Zaayman op 2 en 3 Oktober gekoop het. Die Oudtshoorn Courant het op 8 Februarie berig oor verskeie transaksies waarby Zaayman betrokke was en waardeur mense honderde duisende rande verloor het.
Dinsdag se drama het begin nadat WM Badenhorst en Hein van Eeden van Elite Motors vir Zaayman en sy vrou in 'n Ford Fiesta en 'n VW Touran opgemerk het waar hulle by die Ford-handelaar in Voortrekkerweg indraai. Badenhorst het pas 'n uur tevore die registrasiedokumente en spaarsleutels van 'n Hyundai Tucson wat hy verlede week aan Zaayman verkoop het, teruggekry nadat Zaayman hom nie vir die Tucson betaal het nie. (Lees berig op bladsy 2). Badenhorst het die Fiesta herken aangesien Zaayman die motor vroeër die oggend aan hom probeer verkoop het, en hy het toe onmiddellik vir Francois Brill by Ford geskakel en hom gewaarsku dat hy versigtig moet wees vir 'n transaksie met Zaayman.
Nadat Zaayman probeer het om die twee voertuie, wat die vorige week in Port Elizabeth gekoop is en reeds op sy vrou se nooiensvan geregistreer was, aan Brill te verkoop is hy vort na 'n volgende handelaar. Brill het op sy beurt daardie handelaar geskakel wat onmiddellik die polisie in kennis gestel het dat moontlike ongerymd-hede aan die gang kan wees. Intussen het WM Badenhorst kontak gemaak met Heinrich Smit wat op 2 en 3 Oktober 'n Polo Vivo en 'n Nissan Almera aan Zaayman verkoop het.
"Ek het vir Heinrich gevra of Zaayman hom vir die twee karre betaal het, want die betalings wat hy vir my Tucson gemaak het, was vals." Heinrich het onmiddellik hul maatskappy se finansiële afdeling gekontak en vasgestel dat die internetbetalings waarvan Zaayman vir hom bewyse gegee het, nooit plaasgevind het nie. Hy het onmiddellik 'n klag van bedrog by die polisie gaan indien en die handelaar waarheen Zaayman op pad was met die Touran en Fiesta, is in kennis gestel van die klag.
'n Leser wat weet dat die Oudtshoorn Courant al sedert Februarie Zaayman se bedrywighede dophou en gereeld deur lede van die publiek ingelig word van onder meer transaksies wat hy op Gumtree gedoen het, het die koerant omstreeks 09:00 Dinsdag-oggend geskakel met beweringe dat Zaayman motors waarvoor hy nie betaal het nie, probeer verkoop.
Kort daarna het WM Badenhorst die koerant ook geskakel. Die oproepe het daartoe gelei dat die Oudtshoorn Courant kontak kon maak met die handelaar wat die polisie verwittig het van Zaayman se planne. Die handelaar het, nadat hy die polisie geskakel het, aangebied om die twee motors by Zaayman te koop. Zaayman is egter na die aanbod eers George toe en het vir die handelaar gesê dat hy teen halftwaalf terug sal wees om die transaksie af te handel. Die Oudtshoorn Courant het vir meer as twee ure in die parkeerplek van 'n aangrensende onderneming gewag, maar Zaayman het nie opgedaag nie. Inligting is toe bekom wat daarop gedui het dat Zaayman en sy vrou buite Oudtshoorn voorgekeer gaan word. Die egpaar is by die Bakenskraal-afdraaipad voorgekeer waar Zaayman in hegtenis geneem is op 'n klag van bedrog vir die wanbetaling van die Almera en die Polo.
Adjudant-offisier Daromi Burger het intussen vasgestel dat die Touran en die Fiesta wat die Zaaymans van die hand probeer sit het, by 'n handelaar in Port Elizabeth gekoop is en nie betaal is nie. Die handelaar het ook in Port Elizabeth 'n klag van bedrog gelê.
Zaayman het Woensdag in die landdroshof op Oudtshoorn verskyn, maar die saak word verskuif na die streekhof. Hy bly in aanhouding tot 29 Oktober wanneer hy verskyn vir 'n borgaansoek. Hy word verteenwoordig deur Vaughn Shone nadat sy aanvanklike regsverteenwoordiger Woensdagoggend onttrek het.
Volgens inligting wat die Oudtshoorn Courant bekom het, het Zaayman altesame nege voer-tuie sedert 2 Oktober by handelaars gekoop en as bewys van betaling 'n rekenaardrukstuk aangebied. Dit blyk egter dat die drukstukke uitgedruk is voordat die transaksies voltooi is en dat geen geld oorbetaal is nie. Van die nege voertuie is ten minste ses in Zaayman se vrou Amonique se naam geregistreer. Die voertuie is in haar nooiensvan, De Jager, geregistreer en in vyf gevalle word haar adres as Lynnstraat 8, Bluewater Bay aangegee. Dit is onbekend wie by die adres woonagtig is aangesien die egpaar se huidige adres hier in Parkweg is.
Die selffoonnommer wat op die registrasievorms van die vyf voertuie verskyn, is nie meer in werking nie. Boodskappe aan Amonique om met die koerant te gesels, is nie beantnwoord nie.
Adjudant-offisier Daromi Burger verwittig Edward Zaayman van sy regte tydens sy arrestasie op klagtes van bedrog Dins-dagmiddag, terwyl sy vrou Amonique toekyk. Foto: Hannes Visser. Inlas: Edward Zaayman is tans in aanhouding op klagtes van bedrog. Foto: Facebook
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'