`n Paar slim spellers het verlede week deur hul passies gedraf tydens die jaarlikse Spelling Bee, aangebied deur plaaslike biblioteekdienste asook die jeugkantore van Oudtshoorn-munisipaliteit. Woensdag moes laerskoolleerders hul weg deur strikwoorde spel en Donderdag het hoërskoolleerders aan die beurt gekom.
Die laerskoolkannetjies het met selfvertroue na die mikrofoon gestap. Die groot gehoor en daardie vyf stuks grompot-beoordelaars sou enigeen se dinkspiere op `n knop laat trek.
Mens sou verwag dat klinkers en vokale oor geknoopte en senuagtige tonge sou rol. Maar by die wenners was daar egter nie `n sweem van senuagtigheid te bespeur nie. Hierdie groepie wandelende woordeboeke en spelgidse laat hulle nie maklik afskrik nie. Na dese is daar `n paar hoër- en laerskoolleerders by wie ons sterflike wesens kan aanklop vir hulp.
Vanjaar het 15 laerskole (47 deelnemers) en 8 hoërskole (23 deelnemers) uit die Groter Oudtshoorn streek deelgeneem en mekaar uitgedaag met hulle top spellers.
Dit was 'n behoorlike stryd onder die deelnemers wat vanaf grade 5 tot 7 en grade 8 tot 11 meegeding het vir die titel as beste speller in hulle onderskeie grade, maar ook as die algehele wenner van die aand.
Laerskole Spelling Bee:
Graad 5: Geneveve Soman (Dysselsdorp Primêr)
Graad 6: Jarista Young (Laerskool Oudtshoorn-Noord)
Graad 7: Wilroy Jantjies (Colridge Primêr)
Algehele wenner: Jarista Young (Laerskool Oudtshoorn-Noord).
Hoërskole Spelling Bee:
Graad 8: Kaylin Loff (Colridge Primêr)
Graad 9: Carmelita Miggels (Haarlem Sekondêr)
Graad 10: Jazihano Loksen (Môre-ster Sekondêr)
Graad 11: Rowena Januarie (Dysselsdorp Sekondêr)
Algehele wenner: Kaylin Loff (Colridge Primêr)
Die Oudtshoorn-munisipaliteit wil ook graag hul dank betoon aan die "Beekeeper," Wilna Francis en ook die beoordelaars op die paneel: Dr. Jaco Kriek, Lesego Maruping, Melda Peterson, Marie van Antwerpen en Tommy Johnson.
Hierdie persone deel ons passie vir die kinders en dit is vir ons 'n groot voorreg om hulle op ons paneel te kan hê. Sonder hulle sou so 'n aand nie moontlik gewees het nie.
In 2013 sal die 5de Spelling Bee aangebied word dit beloof om die grootste gebeurtenis nog te wees. Daar word selfs 'n Eden Spelling Bee beplan vir volgende jaar.
Al die skole is opgewonde en volgende jaar se deelnemers gaan letterlik die geskiedenis boeke oorskryf. Die munisipaliteit hoop egter om meer skole te betrek by die aangeleentheid.

Die plaaslike biblioteek en die jeugkantore van die Oudtshoorn-munisipaliteit het Woensdag en Donderdag 'n jaarlikse Spelling Bee vir laer- en hoërskoolleerders aangebied.
ARTIKEL: JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS