OUDTSHOORN NUUS - Die skrywer, Tania Smit, se tweede boek, Heelword, is die afgelope naweek by die Boekbedonnerd-boekfees in Richmond as die beste motiveringsboek van 2021 aangewys. Smit se vorige boek, Hekelwoorde van my hart, is in 2019 by dieselfde fees as die boek met die beste verkope aangewys.
Smit sê sy het bykans twee jaar aan Heelword gewerk en dit in 2020 bekendgestel.
Volgens haar is skryf iets wat met toewyding en passie gedoen moet word en die skrywer moet elke stappie van die proses meemaak. "Om 'n boek uit te gee beteken nie bloot jy gaan sit en skryf nie. Jy moet presies weet wie jou mark is. Jy moet 'n goeie bemarkingsplan hê en jy moet as skrywer seker maak dat jou boek foutloos en visueel aantreklik is."
Soos met Hekelwoorde van my hart, het Heelwoord ook kort vertellings, gedigte en kleurvolle illustrasies deur die kunstenaar Glendine, maar Smit sê die inhoud verskil. "Mens skryf uit jou hart uit en daarom is een boek nooit presies soos 'n vorige een nie. My boeke is nie bloot leesstof nie, dit is ook my manier om ander mense te bemoedig en bemagtig."
Smit hou gereeld praatjies in verskillende dele van die land waar sy veral vroue bemoedig en sy het 'n Facebook-blad met meer as 40 000 volgelinge. Op 'n vraag of sy tans aan 'n derde boek werk het sy Dinsdag gesê sy het 'n idee wat besig is om in haar te groei, maar dat sy nog nie met die skryfwerk begin het nie. Vir meer inligting oor haar boeke kontak haar by 082 378 7990.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'