Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Die enigste skoollied wat C.J.Langenhoven ooit geskryf het, is van vandag af terug in Arbeidsgenot waar Langenhoven dit destyds geskryf het.
Die 1929 matriekklas van die Rooidakskool op Boshoff het destyds 'n brief aan Langenhoven geskryf met die versoek dat hy vir hule 'n skoollied sal skryf.
In sy reaksie het hy gesê dat verskeie skole hom al genader het en dat hy nie skoolliedere skryf nie.
Die matrikulant wat die brief namens die klas geskryf het, se naam was egter Engela, dieselfde naam as Langenhoven se dogter, en blykbaar het Langenhoven toe in sy antwoord gesê alhoewel nie skoolliedere skryf nie, sal hy vir Engela en haar klasmaats 'n uitsondering maak.
Ses oudleerders van die Rooidakskool, waarvan vier tans in Oudtshoorn woon, het die handgeskrewe skoollied en 'n brons borsbeeld van Langenhoven wat hy in 1929 saam met die skoollied vir die skool gegee het, aan die Langenhoven gedenkfonds oorhandig.
Volgens Jan de Waal wat in 1962 matriek geskryf het, het die skool in 1995 gesluit en die lied, die beeld en gepaardgaande dokumente was in Boshoff se museum bewaar.
Die museum het egter gesluit en hulle was bang die nalatenskap van Langenhoven beland op die ashoop.
Mariana Swanepoel wat Meer as twee dekades by Arbeidsgenot betrokke was, het die skenking by Arbeidsgenot in ontvangs geneem.
Kyk 'n video hieronder:
Die ses oudleerders van die Rooidakskool in die sitkamer van Arbeidsgenot waar die skoollied en borsbeeld van Langenhoven oorhandig is. Van links is: Chris Serfontein, Corné Serfontein, Jeanette Fouchee, Toy Ungerer, Cecile en Jan de Waal. Foto's: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'