LADISMITH NUUS - Om skoolhoof te word in ’n voormalige Model C-skool is reeds ’n uitdaging, maar om vrou te wees, verhoog hierdie uitdaging.
Dit is presies wat die Alnorah Bell (50) van Zoar besef het toe sy as waarnemende prinsipaal by Hoërskool Ladismith aangestel is.
Bell is die tweede persoon van kleur na Sammy Eli, wat in hierdie voormalige Model C-skool aangestel is.
Vanjaar het die skool ’n indrukwekkende slaagpersentasie van 97,9% behaal. Bell sê dat haar filosofie is om die belange van leerders eerste stel en so verwag sy ook dieselfde van die onderwysers om deeglik bewus te wees van die omstandighede van elkeen van hul leerders.
Bell glo dat haar opvoeders moet toesien dat leerders gemotiveerd bly deur take aan hulle te gee wat hul kreatiwiteit prikkel en hul waarde verhoog.
"Effektiewe kommunikasie verhoog klaskamerbestuur en opvoeders moet persoonlik verantwoordelikheid aanvaar vir leerders se sukses. Opvoeders moet ook buite die klaskamer ’n effektiewe rol in die leerder se lewe kan speel. 'n Optimistiese opvoeder steek die optimisme in leerders aan. Sensitiewe inligting rondom leerders moet op ’n hoogs-vertroulike basis hanteer word. En dan behoort opvoeders ook die welstand van hul kollegas sowel as hul leerders op die hart dra. Al hierdie klein verstelling in houding speel 'n groot rol in die algehele sukses van 'n skool se slaagpersentasie," sê Bell.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Karoo nuus'