PRINS ALBERT NUUS - Die organisasie Gift of the Givers (Suid-Kaap) het einde Mei sowat een ton kos aan Prins Albert Primêr geskenk.
Eduan Naudé en Eksteen Steinberg van George, se bakkie het laag gehang toe hulle op 26 Mei met 400 kg mieliemeel, 400 kg rys, honderde pakkies kitsnoedels, sakke vol brokkoli en appels, asook blikkies vis by die skool opgedaag het.
Hulle is ingewag deur die skoolhoof, Sammy Delport, en 'n onderwyseres, Diana Koorts, wat die onderhandelings vir die skenking gehanteer het.
Volgens Koorts het die organisasie ingespring om te help totdat die Wes-Kaapse departement van onderwys weer kosvoorraad kan skenk. Mario Ferreira, verteenwoordiger van Gift of the Givers in die Suid-Kaap, het die skenking moontlik gemaak.
Dit was nie al geskenk wat die skool op dieselfde dag ontvang het nie. Die Prins Albertse liefdadigheidsorganisasie, Thursday Club, het 1 100 maskers vir die leerders en onderwysers gegee deur naaldwerkersters wat dit gemaak het, vir hul werk te betaal.
Naudé het by die oorhandigings-geleentheid gesê Gift of the Givers se leier, Imtiaz Sooliman, se lewensbenadering is, "Dat jy enige mens wat in die nood is, help … ongeag ras of geloof, sonder voorbehoud. Selfs 'n 'dankie' is nie nodig nie."
Sammy Delport en Eduan Naude (voor in die middel) en Diana Koorts (regs agter) saam met ander personeellede by die reuseskenking. Foto: Marlene Malan
Dis waarom hy en Steinberg hierheen gery het, het hy gesê. "Ons is bly as ons 'n verskil kan maak." Hy het vertel hoe Suid-Kaapse boere onder meer vragte appels en brokkoli skenk om aan hongeres uit te deel. "Ons kon nie vandag alles in die bakkie laai wat vir Prins Albert gegee is nie. Eksteen het die bakkie en brandstof vir die rit hierheen geskenk."
Delport het sy dankbaarheid teenoor Gift of the Givers uitgespreek, "Namens ons ouers en die personeel en die leerders. Ek is oorweldig."
Delport het gesê uit hierdie inperkingstyd kan baie geleer word. "Ek fokus op die goedheid tussen mense, dat hulle saamstaan en mekaar help, vir mekaar omgee. Dis uiteindelik wat saak maak … wat ons doen om in hierdie moeilike tyd na mekaar uit te reik."
Rosie Hinkman van die winkel Cinnamon and Grace laai 'n vrag maskers by die laerskool af wat sy help maak het. Foto: Diana Koorts
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'