OUDTSHOORN NUUS - Twee hoërskole in Oudtshoorn, Hoërskool Môrester en Langenhoven Gimnasium, het op 17 September in Bellville aan die provinsiale vaardigheidskompetisie, waar leerders hul vaardighede prakties moes toepas, deelgeneem.
Die drie afdelings wat leerders aan deelgeneem het was, pas- en masjineerwerk, houtbewerking en elektriese kragstelsels.
"Al die tegniese skole het die geleentheid gehad om hul beste leerder in die afdeling in te skryf. Die leerder kon dan sy vaardigheid ten toon stel," het Kevin Malan, vakadviseur van die WKOD gesê.
Langenhoven Gimnasium het in al drie die afdelings deelgeneem en in al drie afdelings pryse gewen. Vir pas- en masjieneerwerk het Janco Westenraad 'n 1ste plek behaal. Vir houtbewerking het Jannes Labuschagne 'n 1ste plek behaal. Vir elektriese kragstelsels het Jana-Mari Emmerich, as 'n gr. 10- leerder wat teen gr. 11-leerders deelgeneem het, 'n 2de plek behaal.
Hoërskool Môrester het ook aan al drie die afdelings deelgeneem. Vir pas- en masjieneerwerk het Adin Bezuidenhout 'n 2de plek behaal.
Langenhoven Gimnasium van links: Gerhard Loots, meganiese onderwyser, Janco Westenraad, Jana-Mari Emmerich, Malem van Heerden, elektriese onderwyser, Jannes Labuschagne en Ben Jansen van Rensburg, siviele onderwyser. Foto: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'