OUDTSHOORN NUUS - Herwinning in Oudtshoorn het die afgelope twee weke 'n groot hupstoot gekry nadat drie groot skole aktief by 'n herwinningsprojek ingeskakel het. Die projek word deur Cango Wildlife Ranch befonds.
Volgens Hugo du Plessis, hoof uitvoerende beampte van Cango Wildlife Ranch, het WAZA (The World Association of Zoos and Aquariums) onlangs geld aan Cango Wildlife Ranch toegestaan om herwinning te befonds.
Die projek is aanvanklik net by Cango Wildlife bekendgestel. Vier houers waarin onderskeidelik plastiek, blik, glas en papier gegooi word, is by die Ranch ingerig.
André Janse van Rensburg, eienaar van Retain Recycle Re-use, het gereël dat die houers gereeld leegemaak word.
"Alles het so suksesvol verloop dat ons besluit het om ons laerskole ook te nader om deel te neem," het Du Plessis verlede week gesê.
Hulle het besluit om aanvanklik die projek by Laerskool Wesbank, Laerskool Laurus en Van Reede Primêr te loods.
"Hoewel ons op hierdie stadium slegs genoeg geld het om die projek by drie skole aan te bied, hoop ons om naderhand die hele dorp se skole en selfs besighede in te sluit," sê Du Plessis.
Wesbank was die eerste skool wat verlede week houers vir plastiek, papier en blik ontvang het en die projek is tydens 'n saalbyeenkoms deur Du Plessis en Janse van Rensburg aan die kinders verduidelik. Laurus en Van Reede kom hierdie week aan die beurt.
Leerders van die drie skole word uitgedaag om alle papier, blik en plastiek van die huis af te bring en in die houers by die skole te gooi.
Geen glas word by die skole ontvang nie as gevolg van veiligheid.
'n Voertuig van Retain Recycle Re-use sal die houers leegmaak en die inhoud na hulle herwinningsaanleg neem.
Volgens die reaksie van leerders by Wesbank verlede Woensdag, is hulle baie opgewonde oor die projek aangesien daar belonings is vir die leerders en klasse wat die meeste herwin. 'n Wenskool word aan die einde van die jaar aangewys.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'