GEORGE NUUS - Gerugte dat die voormalige Good-raadslid Donovan Saptoe by die DA aangesluit het, en boonop 'n pos as verkeershoof by Oudtshoorn-munisipaliteit aanvaar het, is alles bogpraatjies.
Só het Saptoe gesê oor die stories wat tans op sosiale media die ronde doen.
Volgens Saptoe het tonge begin klap ná 'n verwysing in 'n persverklaring deur Good se sekretaris-generaal Brett Herron: "Of die bedankings [van Good-raadslede] deel was van 'n groter 'deal' wat werksgeleenthede vir pelle in DA-beheerde munisipaliteite behels het, soos gefluister word, sal die tyd leer."
Saptoe het gesê soos enige ander persoon staan dit hom vry om aansoek te doen vir poste, maar hy kan onomwonde sê dat hy nie 'n pos by Oudtshoorn-munisipaliteit aangebied is nie.
"Ek is níé oor na die DA nie. Ek is níé 'n DA-lid nie, ek tree nou eers uit die politiek en oorweeg my opsies. Ek sal dan besluit watter kant toe ek wil gaan. Op die stadium het ek nie aansoeke gedoen vir poste nie. Ek sien en hoor al die praatjies, maar dit het alles begin by valse bewerings wat versprei is."
Terugvoer van Oudtshoorn-munisipaliteit word afgewag. Na wat verneem word het hulle reeds 'n verkeershoof en is die pos nie geadverteer nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’