OUDTSHOORN NUUS - 'n 23-jarige vrou is die afgelope naweek gewond toe 'n man met 'n pistool op haar en ander mense losgebrand het. Angelique Manuel is in die skeen gewond nadat die man drie skote by die huis waar sy gekuier het geskiet het.
Drie persone, waaronder 'n 15-jarige seun, is na die voorval in hegtenis geneem.
Kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, sê daar is 'n 9 mm-patroondoppie op die toneel gevind wat as 'n bewysstuk ingehandig is. Die pistool is, volgens Visser, nog nie gevind nie. Die beskuldigdes het ook nie vuurwapenlisensies nie.
Henrico Arends, wat na bewering die sneller getrek het, en die 15-jarige seun het Maandag in die hof verskyn. Arends verskyn weer op 14 Augustus vir 'n borgtogaansoek en die minderjarige is in die sorg van sy ouers vrygelaat. Die saak teen die derde verdagte is intussen teruggetrek.
Volgens ooggetuies het Manuel 'n geselligheid in Dassieweg, slegs twee huise van waar sy woon, bygewoon toe die voorval gebeur het.
Lya Demakaa, die vrou by wie se woning die voorval plaasgevind het, sê dit is nie die eerste keer dat die verdagte by haar woning kom skiet nie.
"Saterdagaand het daar mense by my plek gekuier en die man het later daar aangekom. Hy was bietjie besope en het mense begin pla. Om moeilikheid te vermy het ek hom gevra om my erf te verlaat. Hy het 'n rukkie later teruggekom en sommer van die deur af begin skiet," het sy vertel. Volgens Demakaa het sy en Manuel op die grond gesit en gesels.
Lya Demakaa op die toneel waar Angelique Manuel geskiet is.
"Die koeël het my rakelings gemis en vir Ange-lique in haar skeen getref. Hy het nog twee skote afgevuur voordat hy by die deur uit is. Ons almal het geskrik, want niemand het hom rede gegee om te skiet nie. Dis al die derde keer vanjaar dat hy op my erf kom skiet. Almal hier weet hy het 'n pistool. Hy loop baie met dit rond en skiet blinde-lings. Ons het geweet dis net 'n kwessie van tyd voor hy iemand sou raak skiet," het sy gesê
Annie Manuel, Angelique se ma, sê van die mense wat gesien het, het haar kom meedeel dat haar dogter geskiet is.
"Ek het na die huis gehardloop en haar op die grond gekry waar sy lê en bloei het. Sy is per ambulans hospitaal toe geneem. Sy is Maan-dagmiddag geopereer om die koeël uit haar skeen te verwyder."
Volgens Manuel het die koeël haar been gekraak en is haar been in gips.
"Ek is geweldig ontsteld oor wat gebeur het. My kind kon dood gewees het. Waaroor ek hartseer is, is dat niemand van sy familie by my huis was om te hoor hoe dit met my kind gaan en of sy ernstig seergekry het nie. Ek ken sy familie baie goed en het verwag dat hulle navraag sou kom doen. Ek is egter nie kwaad vir hulle nie. Dis mos nie hulle wat my kind geskiet het nie. Dit wat hy gedoen het is egter verkeerd en hy moet boet vir wat gebeur het," het sy gesê.
Die straat waar die voorval gebeur het.
Angelique het 'n dogter wat die week vyf jaar oud geword het.
"My kind kan nie eens saam met haar 'n partytjie hou of 'n stukkie koek eet nie, want sy lê in die hospitaal oor iets wat totaal onnodig was," het sy gesê.
ARTIKEL & FOTO'S: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'