OUDTSHOORN NUUS - ‘n Man (23) van Rosebank, Oudtshoorn, wat ‘n 44-jarige man in die arm en heup geskiet en ook R200 van hom gesteel het, is in die Oudtshoorn-streekhof agt jaar gevangenisstraf opgelê.
Fazel Tarentaal het skuldig gepleit op die twee aanklagte van poging tot moord en diefstal.
Hy sê in sy pleitverduideliking wat deur Eugene Roos, sy regsverteenwoordiger, aan die hof voorgelees is, dat hy tik en skonfaan verkoop. Hy het drie sakkies tik en “poppers” aan die 44-jarige Gert Stander op 22 Mei 2020 vir R80 verkoop. Stander het met ‘n R100 betaal, en hy het sy kleingeld vir hom gegee.
Stander het hom later gevra om saam met hom huis toe te stap. Terwyl hulle gestap het, het Stander hom glo gevra om vir hom ‘n meisie te kry.
Volgens hom het Stander kwaad geword toe hy sê dat hy nie kan nie en met ‘n klip na hom gegooi, wat hom aan die agterkant van sy kop getref het.
“Ek het baie kwaad geword toe ek die bloed sien, my vuurwapen uitgehaal en na hom geskiet toe hy weghardloop."
Volgens Tarentaal het hy Stander agternagesit en toe hy by hom kom ‘n R200 op die grond sien lê wat hy toe vir hom gevat het. Hy sê verder dat hy nie gesien het waar hy Stander raakgeskiet het nie en het later gehoor dat hy in sy arm en heup getref is.
Hy het erken dat hy verkeerd opgetree en daarvoor gestraf moet word. Die staat het sy pleitverduideliking aanvaar en hy is deur streeklanddros Kenneth Peters skuldig bevind.
Hy is tot ses jaar vir poging tot moord en twee jaar vir diefstal gevonnis.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'