DYSSELSDORP - Twee mans, wat iemand wat hulle ken met 'n skêr gedreig en van R340 beroof het, is verlede Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof onderskeidelik tot ses en agt jaar gevangenisstraf gevonnis.
Adrian Hector (27) en Andy Marnewick (45) is deur streeklanddros Sylvia Mandla aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind.
Hulle het erken het dat hulle helder oordag op 17 Februarie 2020 vir Thomas Ferreira beroof het. Hector en Marnewick sê in hul pleitverduidelikings dat hulle die betrokke dag saam besluit het om Ferreira te beroof. Terwyl Hector hom met die skêr gedreig het, het Marnewick die geld uit een van sy broeksakke gehaal, waarna hulle die hasepad gekies het.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof versoek om Marnewick 'n swaarder vonnis op te lê omdat hy ten tyde van die voorval op parool was. Al wat ten gunste van die twee tel, is die feit dat hulle skuldig gepleit en hul slagoffer nie beseer is nie, het Smith gesê.
Die bedrag wat geroof is mag klein wees, maar vir die klaer was dit baie geld wat hy verloor het. Die twee se regshulpprokureur, Cindy Murray-Smith, het die hof versoek om van die minimum vonnis van vyftien jaar af te wyk omdat buitengewone omstandighede wel bestaan om dit te doen. Die landdros het vir vonnisdoeleindes in ag geneem dat die twee beskuldigdes skuld erken het en die klaer, gelukkig vir hulle, nie beseer is nie.
Hulle is egter aan 'n ernstige misdaad skuldig bevind.
Hector is vir ses jaar en Marnewick vir agt jaar tronk toe gestuur terwyl hulle ook onbevoeg verklaar is om vuurwapens te besit.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'