Video
OUDTSHOORN NUUS - Die bekende Pay it forward-broodjieprojek wat reeds sedert verlede jaar aan die gang is, word nou ook aangewend om die Lighuis-projek in Bridgton te help.
Die Lighuis-projek is in 2011 deur die Vryburgers van Oudtshoorn begin as deel van die organisasie se nasionale Kos vir Kinders-projek.
By die Lighuissentrum word 'n nasorgsentrum bedryf waar kinders gratis na skool gevoed word en aan opvoedingsprojekte deelneem.
Die nasorgsentrum huisves tans ongeveer 43 kinders van 3 tot 17 jaar. Hulle ontvang daagliks 'n maaltyd in 'n veilige omgewing waar hulle die middag na skool kan spandeer.
Die kinders word daagliks besig gehou met 'n verskeidenheid aktiwiteite. 'n Storieklub en besoeke aan talle instansies in die gemeenskap.
Die Lighuis is tans ook besig met 'n hekel-herwinningsprojek, waar produkte soos tafeldoeke en plekmatjies geskep word uit herwonne plastieksakke. Van hierdie produkte was tydens die KKNK verkoop. Die kinders word gereeld geleentheid gegun om by bestaande gemeenskapsprojekte betrokke te raak om sodoende 'n bydrae tot die gemeenskap te maak.
Twee voltydse assistente berei daagliks maaltye voor en verskaf bystand met emosionele asook maatskaplike ontwikkeling.
Wes-Handelshuis het met die Vryburgers kragte saamgesnoer om die volhoubaarheid van hierdie projek te bewerkstellig deur die Pay it Forward-projek. Inwoners word gevra om slegs R5 by hulle inkopies by Wes-Handelshuis of Camp Roadhouse te voeg wat dan gebruik sal word om die aankoop van kos en ander benodighede vir die Lighuis te subsidieer.
Die Vryburgers van Oudtshoorn bied ook eerskomende Vrydag aand 'n wynveiling aan ten bate van die Lighuis.
Individue wat betrokke wil raak en wil help om die voortbestaan van hierdie sentrum te verseker kan debietorders teken vir 'n maandelikse aftrekorder van so min as R50. Alle fondse word gebruik vir kosaankope asook operasionele uitgawes by die Lighuis en word geadministreer deur die Vryburgers se tesourier.
Kyk 'n video hieronder.
Vir meer inligting kontak Stephan Rossouw van die Vryburgers by 079 878 5070 of stephan@mooigezicht.co.za per e-pos. Jaco Vorster van Wes- Handelshuis en Camp Roadhouse kan bereik word by 082 490 2397 en info@jjz.co.za. Vir meer inligting omtrent die Pay it Forward-projek besoek www.camproadhouse.co.za/pay-it-forward/.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'