OUDTSHOORN NUUS - ‘n Tienjarige seun is vanoggend tussen 07:00 en 07:30 naby Buffesldrift op die grottepad dood toe hy deur ‘n motor getref is.
Volgens twee ooggetuies het die seun en twee jonger kinders die pad oorgesteek. Die twee jonges het oor die pad gehardloop en die oorledene het agter hulle aan gehardloop.
Volgens ‘n motoris wat vanaf die grotte se kant gery het, het sy gesien die twee kleiner kinders hardloop oor die pad terwyl ‘n Mercedes van die teenoorgestelde rigting op pad was.
“Die twee kleintjies was al oor die pad toe die seuntjie ook begin oorhardloop. Hy het egter gehuiwer en die Mercedes het hom probeer vermy, maar hy het reg voor die kar beland,” het die geskokte vrou op die toneel gesê.
Die ander ooggetuie was by die ingang van Buffesldrift toe die seuntjie getref is. Volgens hom het dit baie vinnig gebeur. “Ek het net gesien die kind is voor die kar en toe het hy deur die lug getrek en langs die pad geval.”
Volgens die seuntjie se suster het hy en sy boetie by familie gekuier. Hulle was saam met die twee kleiner kinders op pad na ‘n huis ‘n ent verder met die pad langs, maar aan die oorkant van die pad.
Dit blyk dat die oorledene en die twee jonger maatjies besluit het om die pad oor te steek terwyl die ouer boetie aan die linkerkant van die pad bly aanstap het. Hy was glo ‘n hele ent voor die ander drie toe die ongeluk plaasgevind het.
Geskokte familielede het die slagoffer se ma, suster en broertjie op die toneel ondersteun. Die twee jong kinders wat ook die pad oorgesteek het, was ook nog op die toneel en was erg geskok.
Die identiteit van die oorledene is aan die Oudtshoorn Courant bekend, maar is nog nie amptelik deur die polisie bevestig nie. Die Bestuurder van die Mercedes is die eienaar van ‘n onderneming in die omgewing en was vanaf Oudtshoorn in die rigting van Schoemanshoek onderweg toe die ongeluk plaasgevind het.
Speurders op die toneel waar die tienjarige seuntjie se liggaam langs die pad lê.
Die skade aan die Mercedes waar die seuntjie getref is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'