OUDTSHOORN NUUS - 'n Klag van poging tot moord word deur die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek nadat 'n 16-jarige seun Sondag vermoedelik deur 'n traangasgranaat getref is.
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, volg dit na die polisie twee optredes Saterdag en Sondag gedoen het.
Volgens hom het die voorval waar die kind raakgeskiet is Sondag gebeur.
"Sondagoggend het die polisie 'n man in 13de Laan vir die besit van dagga en Mandrax gearresteer. In 'n oogwink het daar 'n groep van meer as 300 mense gevorm en klippe na die polisie begin gooi en selfs met grawe, pikstele en pangas op die polisie afgestorm.
Hulle het skokgranate en rubber rondes afgevuur om uit die situasie te kom en veilig uit die area te onttrek. Hulle kon daarin slaag om die verdagte in aanhouding te hou en hy is aangekla vir besit van dwelms. Daar is 'n SAPD-lid beseer en twee polisievoertuie is tydens die voorval beskadig. Die polisie het sake van openbare ge-weld, opsetlike saakbeskadiging en aanranding geopen," het hy gesê.
Does Moos (63), 'n inwoner van 15de Laan sê sy en 'n vriendin was Sondag op pad kerk toe, toe die voorval gebeur.
"Die kind het by die erf langs ons s'n uitgestap. Die polisievoertuig het om die draai gekom en 'n polisieman het uitgeklim en in die straat af geskiet. Die traangasomhulsel het die kind teen die voorkop getref en die kind het reg voor my oë inmekaargesak.
Dit was net een bol rook en toe kom ons agter dis die traangas. Ek en my vriendin het in die huis gehardloop om my man en die kleinkinders te help. 'n Groep jong mans het die kind opgetel en weggeneem. Sy gesig het vreeslik gebloei," het sy vertel.
Volgens haar kan die straat se inwoners glad nie verstaan waarom die polisie in 15de Laan geskiet het nie.
"Die mense hier was nie oproerig nie. Toe ons die voertuig sien het ons gedink hulle gaan hui-se kom skud. Ons het die skote in die ander straat gehoor, maar ons het nie gedink hulle sal hier ook kom skiet nie," het sy gesê.
Die Oudtshoorn Courant het Woensdag met die kind se ma gepraat. Die kind se identiteit word beskerm omdat hy minderjarig is. Die ma se naam kan daarom ook nie genoem word nie.
Volgens haar is haar seun in 'n kritieke toestand in die intensiewesorgeenheid van die Grootte Schuur-hospitaal in Kaapstad.
"Die dokter sê die ding waarmee my kind geskiet is het sy skedel gekraak. Die skedel het gesplinter en die splinters is in sy brein. Hy moes 'n operasie ondergaan om die skedel om te bou en die stukkies te verwyder.
"Op die stadium kan hy nie op sy eie asem haal nie en is hy aan 'n asemhalingsmasjien gekoppel. Daar is ook pypies in sy kop gesit om die drukking op sy brein te verminder," het die steeds geskokte ma vertel.
Volgens haar kan die dokter ook nog nie sê of haar seun moontlik breinskade opgedoen het nie.
"Die dokter sê hy sal eers kan sê as my seun wakker is. Ons is nog nie seker wanneer dit kan wees nie."
Die seun se ma sê die voorval het haar en haar gesin baie hard getref.
"Die voorval het op my jongste dogtertjie se sewende verjaarsdag gebeur. Sy kry al van Son-dagaand af nagmerries en sê sy droom die polisie skiet haar op haar verjaarsdag dood. Ons het nog geen traumaberading gehad nie. Dis vreeslik om my kind so hulpeloos hier te sien lê. Hy het dit regtig nie verdien nie," het sy gesê.
Volgens haar is haar seun 'n gr. 10-leerder aan Bridgton Sekondêr.
Sy het Donderdagoggend per SMS aan die Oudtshoorn Courant gesê haar seun is van die asemhalingsmasjien af.
"Ons dien 'n groot God. Ek weet hy gaan my kind beter maak," het sy gesê.
Die polisie het die Saterdag ook 'n optrede in Januariestraat gehou.
"Die polisie was daar omdat daar by die huis drank verkoop word. Die mense het saamgedrom en begin om klip te gooi waarna die polisie twee skokgranate gegooi en van die toneel af onttrek het. Daar is 'n polisievoertuig beskadig."
Oudtshoorn se stasiebevelvoerder, brig. Levona Januari, het haar teleurstelling uitgespreek oor die voorvalle.
"Die publiek kla by ons oor die onwettige smokkelhuise en misbruik van dwelms op straat, maar sodra ons optree word dit met teenstand begroet en word ons lede aangeval. Ons gaan beslis nie ophou met die optredes nie en nie toelaat dat die gemeenskap ons intimideer om nie ons werk te doen nie," het sy gesê.
Daar is op hierdie stadium nog geen arrestasies uitgevoer ten opsigte van die genoemde sake nie.
"Oortreders moet maar lig slaap aangesien arrestasies uitgevoer sal word sodra die ondersoek afgehandel is."
Moses Dlamini, woordvoerder van Opod, het by navraag gesê die voorval word ondersoek. Hy het ook bevestig dat die seun nie deel was van die groep opstandiges wat die polisie met klippe bestook het nie.
Lees 'n vorige artikel hier: Polisieoptredes met geweld begroet
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'