Dit is die tweede selfmoordgeval en die sesde persoon verbonde aan die skool wat in verdagte omstandighede gesterf het sedert 2009.
Die ligaam van skutter Ntokozo Rejoice Ngcobo (21) is omstreeks 14:00 by Olivierskop met `n enkele skietwond aan die hoof gevind. Sy is van Umlazi in Durban en is die ma van `n 4-jarige seun, Konke.
`n R4-geweer is langs haar liggaam gevind. Daar heers onsekerheid oor die wyse waarop die rekruut die geweer met lewendige ammunisie bekom het. Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat die sterfte deur die SAPD asook intern deur die SANW ondersoek word.
Die geweer is ook geneem vir ballistiese toetse. `n Nadoodse ondersoek word vandag op die liggaam uitgevoer. Die dood van Ngcobo volg op bewerings dat sy `n verhouding gehad het met `n instrukteur in die skool. Sy is glo verlede naweek in die kamer van `n instrukteur ontdek tydens `n laatnag-inspeksie.
Kol. Siseko Nombevu, bevelvoerder van die skool, het die twee betrokkenes vroeg Maandagoggend op die paradegrond verneder deur hul oortreding aan die hele skool bloot te lê. Ngcobo was nie teenwoordig nie. Volgens `n ingeligte bron het Nombevu vir bykans `n halfuur uitgevaar oor haar 'reputasie'. In `n selfmoordbrief wat Ngcobo agter gelaat het, word melding gemaak van die voortdurende vernedering waaronder sy onderwerp word. In die brief vra sy ook vir onderkorporaal Ngobeni om vergifnis asook vir haar ma en haar seun.
Dit blyk dat vroulike lede in die skool `n geruime tyd reeds ongelukkig is oor verwy-sings na vrouens en seks in die toesprake van senior offisiere. Tydens Maandagoggend se tirade is onderkorporaal N. Ngobeni ook van sy range gestroop. Die stroping van range kan egter alleenlik deur `n militêre hof beveel word. Volgens die Suid-Afrikaanse Weermagunie het Nombevu (indien inligting wat aan die Courant verskaf is, korrek is) onwettig opgetree.
Sedert die selfmoord van Ngcobo is Ngobeni onder konstante bewaking. Die moontlikheid bestaan dat hy `n siviele eis teen die weermag sal instel. Sanwu sal ook namens Ngcobo se seun `n eis instel. Moontlike bedrae beloop R500 000.
Vrae onbeantwoord
Maj Prins van die plaaslike Infanterieskool het aangedui dat vrae wat deur Oudtshoorn Courant aan die bevelvoerder van die skool gerig is nie beantwoord kan word nie. SANW se hoofkantoor in Pretoria het ook nie op telefoonoproepe gereageer nie. Een van die kwessies waaroor die koerant uitsluitsel wou kry is of amptelike wetgewing die verhoudings tussen rekrute en instrukteurs verbied. Volgens bronne blyk die verbod op sulke verhoudings slegs `n interne reëling te wees. Aantygings van wanbestuur word reeds `n geruime tyd teen bevelvoerders van die skool gemaak.
Verskeie voorvalle
Hierdie is die nuutste in `n lang reeks tragiese ongevalle by die plaaslike Infanterieskool. Vroeër vanjaar is `n rekruut, Elvirsha Bruintjies (25) oorlede na `n strawwe oefensessie. Sy was glo verwagtend. In 2011 is o.kpl. Simpiwe Ntozini (36) oorlede aan hipotermie. In 2011 het Moseki Kethupilwe (22) ook met `n R4-geweer selfmoord gepleeg. Sy dood het slegs enkele maande na die vermoedelike verkluiming van Foster Veli Maluleka (27) in dieselfde jaar gevolg.
In 2009 is kpl. Tuis Dimakatso Malitisi (36) oorlede toe hy deur `n troep geskiet is tydens opleiding. Die familie van lt. Daniel Pietersen, wie se dood in 1998 vermoedelik aan hitte-uitputting gekoppel kan word, het hulle tot die Openbare Beskermer gewend vir antwoorde nadat die SANW steeds nie uitsluitsel oor die aangeleentheid kon bied nie.
* A female student at the local infantry school committed suicide on Monday. This followed her humiliation at the hands of senior officers due to he relationship with an instructor at the school. It has since emerged that a number of female employees at the Infantry School are unhappy with the way in which matters are being dealt with by senior and commanding officers. This recent tragedy follows a spate of similar events over the past two years. Attempts to contact the school as well as their head office in Pretoria have been unsuccessful.
.jpg)
ARTIKEL: JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS