OUDTSHOORN NUUS - Die Bridgton Elderly WOW!-klub het verlede Woensdag 'n pretstap gehad as deel van Wêrelddag vir Fisieke Aktiwiteit. Sowat 25 bejaardes, almal vroue, het aan die pretstap deelgeneem.
Die fokus was op 'n gesonde leefstyl en die belangrikheid van stap as oefening.
Die klub het onlangs 'n silwertoekenning ontvang tydens 'n prysuitdeling in Kaapstad waar erkenning gegee is aan klubs wat die welstand van hul gemeenskappe bevorder.
Hierdie inisiatief is volgens Nadia Ferreira, senior kommunikasiebeampte van die departement gesondheid in die Tuinroete en Sentraal Karoo, op die WOW! (Western Cape On Wellness) vennootskapsprogram gebaseer, wat vyf jaar gelede deur die Wes-Kaapse regering op die been gebring is.
Die program het volgens Ferreira groot sukses in gemeenskappe en gesondheidsorg fasiliteite behaal.
"WOW! bemagtig gemeenskapslede om gesonder leefstylbesluite te maak en om kroniese siektes soos hartkwale en diabetes te voorkom, te verminder en beter te beheer. WOW! bevorder gesamentlike leer, aksie en verantwoordelikheid vir beter gesondheid en welstand," sê Ferreira.
Die vroue behoort ook aan die Elderly Crime Prevention Desk (ECPD).
Die vroue het van die Bridgton-kliniek tot by die Sewendedag Adventiste, 'n afstand van sowat 'n halwe kilometer gestap.
Volgens die voorsitter van die groep, Miriam Daries, bestaan hulle tans uit sowat 53 geesdriftige senior burgers van wie die oudste byna 80 jaar oud is.
Tydens hul byeenkomste doen hulle oefeninge, brei, borduur, hekel en word gereeld besoek deur amptenare of personeellede van verskeie instansies.
"Ons het ook ons eie trompoppies wat gereeld by spesiale geleenthede soos Vrouedag, Jeugdag en ander gemeenskapsaktiwiteite optree. Ons besoek ook gereeld siek bejaardes en reik uit met kospakkies waar die nood groot is."
Hulle word op gereelde grondslag deur die polisie besoek wat bewusmakingspraatjies lewer ten opsigte van veiligheid en misdaadvoorkoming, amptenare van die departemente maatskaplike dienste, gesondheid, justisie, die Oudtshoorn-brandweer en ambulansdienste om belangrike inligting oor te dra.
Volgens die oudste lid van die groep, die 79-jarige Susan Ajamp, wat later die maand haar 80ste verjaarsdag vier, kan sy net soos die ander vroue, nie wag vir Woensdae se samekomste nie. "Dit is gesellig, ontspannend, goed vir die siel en baie leersaam," sê sy.
Die groep kom elke Woensdag tussen 09:00 en 12:00 by die Sewendedag Adventiste in Springbokweg, Bridgton, byeen en verwelkom enige lid van die publiek wat die vroue wil toespreek oor een of ander onderwerp.
Sy het haar spesiale dank uitgespreek teenoor die organisasie Meals on Wheels, wat op 'n gereelde basis etes aan die groep verskaf.
Besighede, sakemanne, organisasies en individue wat die groep op een of ander manier wil ondersteun kan Daries skakel by 076 3115 813 of 074 078 7679.
Susan Ajump (79). Foto's: Garnett Wicomb
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'