OUDTSHOORN NUUS - Twee mans van Bridgton wat twee vriende met 'n mes en skêr gedreig en van hul selfone beroof het, is Maandag in die streekhof elk tien jaar tronkstraf opgelê.
Hogan Pêrel (23) en Burswell Stanley (23) is elk op twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede skuldig bevind.
Hulle het die oggend van 20 Augustus 2017 vir Marcello Prins en Nigel Jaftha van drie selfone beroof.
Die twee klaers was van 'n taverne in Bongolethu op pad huis toe, toe hulle deur die twee beskuldigdes en nog 'n verdagte wat nie voor die hof gebring is nie, voorgekeer en beroof.
Albei het die beskuldigdes geken en die voorval het onder straatligte plaasgevind.
Die staatsaanklaer, Willem Vister, het betoog dat die twee beskuldigdes nie enige genade moet verwag nie. Hulle doel was om die twee klaers te beroof nadat hulle die aand saam in 'n taverne gekuier het. Hulle het albei vorige veroordelings.
Wenzel Botha, die twee beskuldigdes se reghulpprokureur, het die hof versoek om die aanklagte vir vonnisdoeleindes saam te neem.
Hy het toegegee dat die twee aan 'n ernstige misdryf skuldig bevind is.
Streeklanddros Ntsoki Moni het die beskuldigdes se getuienis as vals verwerp.
"Die staat het sy saak bo redelike twyfel bewys alhoewel dit nie duidelik is of die rooftog beplan is nie," het die landdros gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'