KLEIN KAROO NUUS - Streke soos Kannaland het die afgelope tyd 'n toename in selfdood onder meestal jongmense gesien wat groot kommer in gemeenskappe wek.
Faktore onder andere soos negatiewe matriekuitslae lei landwyd meestal tot hierdie tragiese daad. Sommige alreeds voor die uitslae, maar meeste na die uitslae.
Oudtshoorn Courant het dr. Shanaaz Hoosain, senior lektor in sosiale ontwikkeling aan die Universiteit van Kaapstad, om raad en leiding vir matrieks en hul ouers genader.
Volgens Hoosain het 'n onlangse studie bewys dat 22% van jongmense selfdood oorweeg.
'n Gebrek aan die voorsiening in hul basiese behoeftes, maar ook afknouery, seksuele misbruik en gesinsgeweld word as redes vir selfdood genoem.
Hoosain noem dat die vrees vir mislukking om aan hul ouers, opvoeders en familie se verwagtinge te voldoen, matrikulante selfdood laat oorweeg.
Hoosain sê verder dat depressie die een geestesgesondheidsoorsaak is vir selfdood is en dat eensaamheid, hartseer, onttrekking van die samelewing, veranderende gedragspatrone en eetlus gevaartekens is waarop ouers moet ag slaan.
Volgens Hoosain is dit belangrik dat jeugdiges verseker moet wees van 'n goeie ondersteuningsbasis waar hulle menswees nie aan hul prestasies gekoppel word nie.
"Ouers mag verwagtinge hê, maar moet waak daarteen om verwyte rond te slinger indien die leerder nie aan die ouer se verwagting voldoen het nie, of hul leerder se uitslae met ander te vergelyk nie. Matrieks moet besef dat druip nie die einde van leer beteken nie. Leer is 'n aanhoudende proses.
"Matrieks moet altyd die moontlikheid van hernasien ondersoek indien hulle sou druip of nie die verwagte uitslag in 'n vak behaal het nie. Dan is daar plaaslike kolleges vir verdere onderwys en tersiêre opleiding wat die ekwivalente van 'n matrieksertifikaat aanbied," benadruk Hoosain.
Die Suicide Crisis Line tolvrynommer, 0800 567 567 24, is 24 uur per dag in al 11 amptelike landstale gereed om hulp aan mense in nood te verskaf.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'