OUDTSHOORN NUUS - Die TS Attequa-seekadette van Oudtshoorn gaan van 27 tot 29 Oktober kamp.
Volgens Angel Syster, 'n offisier van die seekadette, is daar 45 kinders van gr. 7 tot 9 wat gaan kamp.
"Ons wil die gemeenskap vra om asseblief blikkieskos vir die kamp te borg. Dit is 'n leierskapkamp waar die kinders verskeie leiersvaardighede gaan leer.
"Die kinders kom uit verskillende dele van die gemeenskap en sorg self ook, deur middel van lootjies wat verkoop word, vir onkostes. Hulle kry dus nie alles verniet nie.
"Dit is deel van wat ons hulle leer by die kadette, dat hulle moet werk vir wat hulle kry," het sy verduidelik.
Volgens haar gaan die kinders die blikkieskos, sonder 'n etiket, in die veld kry.
"Hulle weet dus nie of dit boontjies of ertjies of vrugte is nie. Hulle moet maar raai. Dit is deel van oorlewing wat ons met hulle wil doen." Angel sê die kadette is reeds sedert Junie in Oudtshoorn.
"Die idee is om kinders bietjie meer gedissiplineerd te maak. Ons dril met hulle soos daar in die weermag gedoen word, ons leer hulle ook hoe belangrik dit is om betyds iewers te wees.
"Dit is alles vaardighede wat sommige kinders nie altyd geleer word nie, maar wat hulle definitief eendag as volwassenes gaan nodig hê."
Volgens haar probeer hulle ook die kinders in die gemeenskap betrokke kry deur werk in die gemeenskap te doen.
Enigiemand wat blikkieskos wil skenk kan Angel skakel by 084 995 6847.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'