OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het 'n kennisgewing van die Wes-Kaapse departement van gesondheid ontvang waarin hulle 'n toename in die gevalle van Scabies in die Oudtshoorn-subdistrik opgemerk het. (Scabies is ook bekend as jeuksiekte).
Die brand-, reddings- en rampbestuur van Oudtshoorn-munisipaliteit sê daar is geen rede tot paniek nie en dat die situasie gemonitor word.
Rampbestuur en die departement van gesondheid is deurlopend in kontak met mekaar.
Die Wes-Kaapse departement van gesondheid vra dat almal onderstaande aandagtig deurlees en voorkomend optree.
Wat is jeuksiekte:
Jeuksiekte is 'n velinfeksie wat deur 'n baie klein myt (gogga) veroorsaak word wat mens nie kan sien nie. Die myt kan vir tot twee maande op jou vel leef.
Hoe kry mens jeuksiekte:
Dit is hoogs aansteeklik en word deur die volgende maniere versprei:
- deur middel van vel-tot-vel-kontak soos om hande vas te hou.
- deur klere, beddegoed of handdoeke te deel met iemand wat 'n jeuksiekte-infeksie het.
Simptome:
- 'n Veluitslag wat geweldig jeuk en wat saans vererger.
- Areas wat meeste aangetas word is die pols, elmboog, armholte, middellyf, sitvalk en tussen die vingers.
- Die veluitslag kan ook uit blasies of puisies bestaan.
Behandeling:
- Gaan na die plaaslike kliniek om ondersoek te word,
- Die gesondheidswerker kan behandeling gee.
Voorkoming:
- Was jou hande gereeld met seep en water.
- Knip jou vingernaels en hou dit skoon.
- Was alle linne en klere in warm water.
- Stryk klere nadat dit gewas is.
- Hang alle beddegoed in die son.
- Dra altyd skoon klere.
Die veluitslag kan verdwyn sodra jy met behandeling begin.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'