OUDTSHOORN NUUS - 'n Oudtshoorniet wat vier jaar gelede besluit het om haar Kersdag te gebruik om iets vir ander mense te doen hou steeds met die tradisie vol.
Lizell van Hansen, 'n sanger en onderwyser van Voorbedag Primêr op Matjiesrivier, sê sy het in 2016 besluit om Kersfees vir minderbevoorregte persone spesiaal te maak en het begin om optredes te hou waar toeskouers geskenke vir hierdie mense kon bring.
"Ek is absoluut mal oor sing en sedert 2016 doen ek 'n optrede en vra mense om 'n geskenkie vir 'n minderbevoorregte persoon te bring. Aan die begin het ons net so 100 geskenke gekry, maar verlede het ons 1 000 geskenke ingesamel. Ek hoop om vanjaar nog meer in te samel."
Volgens haar deel sy die geskenke in die dele van die dorp uit waar die behoeftes die grootste is.
"Ons besoek onder meer Askamp, GG-kamp, Matjiesrivier, Huis Triomf en die Kanaal. Ons samel geskenke vir volwassenes sowel as kinders in en deel dit dan op Kersdag uit."
Volgens haar word die konsert, Go Light our World, vanjaar op 8 Desember om 17:00 by die burgersentrum gehou. Toegang is R50 per persoon.
"Ons vra dat mense asseblief 'n geskenkie saambring. Dit kan enigiets wees van 'n speelding, klere, lekkergoed, skryfbehoeftes of toiletware vir 'n man, vrou of kind."
Die wat nie die konsert bywoon nie, maar steeds 'n skenking wil maak, kan Van Hansen by 078 049 4963 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'