OUDTSHOORN NUUS - Die plaaslike sangeres, Chriszelda Steyn (32), het onlangs haar pa se droom om Jo Black op die verhoog te sien, 'n werklikheid gemaak.
Marius Botha (59), is onlangs met gevorderde kanker gediagnoseer. Steyn het haar pa se droom meer as verwesenlik toe sy Black se konsert op Hartenbos met twee liedjies geopen het.
Die konsert is deel van die landwye OPTOG-konserttoer deur Suid-Afrikaanse sangers en akteurs.
"Toe ons gesin in Maart die slegte nuus hoor was ons verpletter. Omdat my pa se lewensverwagting drasties verkort is, het ek daar en dan besluit om een van sy grootste lewensdrome in 'n realiteit te omskep. Ek het Black se agent genader en gevra of dit dalk moontlik sal wees om saam met Black 'n liedjie te kan sing omdat dit waarskynlik ook die laaste keer sal wees dat Pappa my op die verhoog sal sien. Black het my wildste verwagtinge oortref en voorgestel dat ek twee liedjies op my eie sing."
Sy sê dié optrede saam met Black is 'n persoonlike hoogtepunt in haar sangloopbaan. Steyn se ouers woon in Herbertsdale en hulle het kopgekrap oor hoe sy haar pa by die ATKV Skoffelskuursaal sou kry. Sy het op sosiale media begin woeker om geld in te samel sodat sy vir 'n ambulans kon betaal om hom te vervoer.
Binne 'n paar dae het sy genoeg geld ingesamel en kon sy die ambulansdienste, Grace EMS, kontak om sy plek te bespreek.
Die rolstoel waarin Botha gedurende die vertoning gesit het, is deur Kansa op Oudtshoorn geskenk. Steyn sê sy was met die vertoning bekommerd omdat haar pa by tye gedisoriënteerd raak.
Sy was egter baie verlig toe haar ma vra of hy weet waar hy is en hy antwoord ewe vererg: "Natuurlik weet ek waar ek is. Ek's by Jo Black se vertoning en sussie gaan ook sing."
Steyn het tydens haar vertoning 'n emosionele brief aan haar pa voor die gehoor gelees. "Ek berus my by wat ons Hemelse Vader besluit het, en ek is ontsettend dankbaar dat ek bevoorreg was om jou as my pa te kon hê."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'