DE RUST NUUS - Twee barmhartige samaritane van Wynberg het verlede week vragte vol klere en huishoudelike items aan behoeftiges op De Rust geskenk.
Volgens ao. Elsjé Frey van die SAPD op De Rust, wy Phillip en Pam le Roux hulle daaraan toe om mense en organisasies vir noodsaaklike skenkings te nader.
Hulle identifiseer dan spesifieke gemeenskappe aan wie hulle die skenkings oorhandig.
Volgens Frey was die gemeenskapsaal vol klere en skoene vir volwassenes, kinders en babas. Behalwe vir die klere was daar ook 'n groot verskeidenheid huishoudelike items soos breekware, beddegoed en gordyne waaruit behoeftiges kon kies.
Die dorp se plaas- en buurtwaglede het gehelp met die uitdeel van die skenkings en 195 ontvangers is opgeteken. Volgens Frey sal klere ook aan plaasareas soos Vlakteplaas, Middelplaas, Nelsrivier en Oudemuragie geskenk word.
"De Rust en sy gemeenskap wil hierdie twee persone, asook hul skenkers bedank vir hul onbaatsugtige diens, pragtige gesindheid en vrygewigheid," het Frey gesê.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'