OUDTSHOORN NUUS - 'n Inwoner van Oudtshoorn Lydia Bothma, het ongeveer 'n maand gelede 'n projek begin waar sy honde- en katkos vir Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN) insamel.
Bothma het die week aan Oudtshoorn Courant gesê dat diereliefhebbers se gewilligheid om te help haar regtig verras het.
Volgens haar het sy tot dusver ongelooflik baie steun uit die gemeenskap gekry en het daar selfs 'n man uit Mosselbaai met 'n bakkievrag hondekos by haar aangekom.
"Dit was ongelooflik om dit te sien. Dit wys maar net dat daar so baie mense daar buite is wat 'n liefde het vir diere en wíl help, hulle weet net nie altyd hoe nie. "Ek het gereeld gesien hoe die mense wat met die diere werk vir kosskenkings vra. Dit het my hart gebreek. Daarom het ek besluit om hulle te help om kos in te samel."
Bothma sê Oudtshoorn se diere lê haar baie na aan die hart.
"My honde wat ek by my huis het is ook rescues. Die mense van Oudtshoorn Dogs in Need probeer baie hard om elke rescue die beste te gee wat hulle kan, maar is afhanklik van skenkings van die gemeenskap en daarom wil ek help."
Bothma het gesê die skenkings wat sy kry gaan spesifiek vir die diere in Oudtshoorn.
"Linda Nel wat by ODIN werk, het gesê dat die honde in hulle sorg ongeveer 350 kg hondekos 'n week eet. Van hulle kry ook sagte kos en hulle het ook rys en blikkieskos nodig vir die diere."
Diegene wat 'n skenking aan Oudtshoorn se diere wil maak kan Bothma by 083 437 3668 kontak.
Nog 'n groot skenking wat Lydia Bothma ontvang het vir ODIN. Foto's: verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'