OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van Tuishuis is Maandag, op Mandeladag, deur Queens Hotel bederf.
Volgens Tiaan Fourie, algemene bestuurder van die hotel, het hulle die dames van Tuishuis betrek by 'n Mandeladag-projek.
"Ons het linne, wat nie meer op standaard was nie, aan die tehuis geskenk sodat hulle lapinkopiesakke vir die hotel kan maak. Aangesien dit Mandeladag is, het ons hulle gevra om 67 sakke te maak. Die inwoners het fantastiese inisiatief geneem en selfs die sakke versier."
Volgens hom is dit egter nie waar die projek eindig nie.
"Ons koop die sakke teen R25 elk terug van die inwoners. Die geld is dus vir hulle. Die sakke gebruik ons in ons kamers as geskenke vir die gaste."
Fourie sê die inwoners, of eerder die BONangels, het hulself uitstekend van hul taak gekwyt.
Alice Ungerer (92) is die oudste inwoner wat gehelp het om die sakke te maak en het 'n volle 17 sakke gemaak.Van die sakke wat deur die inwoners gemaak is.
"Dit was groot pret en effe uitdagend omdat dit baie sterk lap is en die naalde so af en toe gebuig het. Dit was lekker om deel van so 'n projek te wees en hoop dat ons weer eendag kan help met so iets."
Fourie sê dit is vir hulle lekker om terug te gee aan die gemeenskap.
"Ons wil altyd graag teruggee aan die gemeenskap, of dit nou Mandeladag is of nie. Dit is vir ons lekker om dit te doen."
Volgens Nine Saayman, voorsitter van die inwonerskomitee, het dit hulle net twee weke geneem om die sakke te maak.
"Dit was 'n heerlike uitdaging," het sy gesê.Die inwoners wat die sakke help maak het is na die tyd vir uitstappie na die Cango Wildlife Ranch geneem.
Die dames van Tuishuis geniet 'n skon en koffie by die Queens Hotel.
Tiaan Fourie oorhandig die geld aan Irma Olivier, bestuurder van Tuishuis.
Van die sakke wat deur die inwoners gemaak is. Foto's: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'