DE RUST NUUS - Die saak teen 'n man van Blomnek, De Rust, wat van menseroof, verkragting en aanranding van sy voormalige meisie aangekla word, is in die Oudtshoorn-streekhof vir uitspraak tot volgende maand uitgestel.
Reagan Makoma (26) word daarvan aangekla dat hy die vrou by 'n bring-en-braai geleentheid geklap en gestamp het, haar toe na 'n nabygeleë begraafplaas getrek het, met 'n mes gedreig en verkrag het. Hy ontken skuld.
Die opsigter van die begraafplaas, Daan Meswati, het getuig dat hy die klaer die oggend van 1 Januarie 2017, by die hek van die begraafplaas gekry het. "Sy het niks van verkragting gepraat nie en ek het ook nie enigiemand anders in die omgewing gesien nie," het Meswati getuig.
Volgens hom het die vrou normaal voorgekom. Die staatsaanklaer, Nadia le Roux, het vir skuldigbevinding op al drie klagtes gevra omdat Makoma se weergawe nie redelik moontlik waar is nie en verwerp moet word.
Volgens die beskuldigde se regsverteenwoordiger, Brian Carelse, hang 'n groot vraagteken agter die getuienis van die vrou en behoort hy vrygespreek te word. Makoma was volgens hom 'n eerlike getuie.
Die saak dien voor streeklanddros Daniël Boks en uitspraak sal op 14 Mei gelewer word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'