KANNALAND NUUS - Die bedrogsaak teen drie senior amptenare van die Kannaland-munisipaliteit is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof vir pleit en verhoor tot volgende jaar uitgestel en die saak teen ’n vierde verdagte wat onlangs oorlede is, van die rol geskrap.
Mc Grandile Makier (44), menslike hulpbronnebestuurder, Hendrik Barnard (49), direkteur: korporatiewe dienste en Nigel Delo, voormalige hoof van finansies is saam met wyle Morné Hoogbaard (47), munisipale bestuurder, daarvan aangekla dat hulle die Kannalandmunisipaliteit tussen Julie 2014 en Desember 2017 uit meer as R338 miljoen bedrieg het en hulself verryk het deur bedrieglike aanstellings in senior poste te maak.
Volgens kol. Katlego Mogale, direkteur van prioriteitsmidaadsondersoeke is drie arrestasies deur die Valke se ernstige misdaadspan uitgevoer en die munisipale bestuurder het homself later aan die Valke oorgegee. Hoogbaard is onlangs oorlede.
Die beskuldigdes staan tereg op etlike aanklagte van bedrog en oortreding van die wet op munisipale finansiële bestuur, deur bedrieglike aanstellings in senior poste asook onregmatige verlof- en oortydbetalings.
Die staatsaanklaer, Mervan Saaiman, het die hof op versoek van Makier en Barnard se regsverteenwoordiger, adv. Jerome van der Schyff, wat nie beskikbaar was nie, gevra om die saak soos ooreengekom tussen al die partye vir vier dae se verhoor, 21 tot 24 Mei 2024, uit te stel.
Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’