CALITZDORP NUUS - Die saak teen 'n man van Bergsig, Calitzdorp, wat daarvan aangekla word dat hy 'n persoon met 'n windbuks geskiet het, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof vir uitspraak uitgestel.
Donovan Abrahams staan tereg op aanklag van poging tot moord deurdat hy glo die aand van 9 Junie 2017 vir Francois Tok in 'n straat in Bergsig raakgeskiet het. Hy pleit onskuldig op die hoofklag, maar skuldig op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Tok het getuig dat dit wel Abrahams was wat hom geskiet en daarna weggehardloop het. Hy is in die linkerarm en -rib getref.
Abrahams voer aan dat dit nie hy was wat die sneller getrek het nie, maar 'n vriend.
Streeklanddros Retha Pretorius het die saak Maandag vir uitspraak tot 2 Augustus uitgestel na die getuienis van 'n geneesheer dat Tok se beserings nie lewensgevaarlik was nie.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'