LADISMITH NUUS - Die saak teen 'n man wat daarvan aangekla word dat hy 'n vrou in 'n leë huis met die dood gedreig, aangerand en verkrag het, is in die Oudtshoorn-streekhof vir uitspraak uitgestel.
Jeremy Isaacs pleit onskuldig en voer aan dat hy nie die klaagster verkrag het nie, omdat sy dit vir sy vrou sou gaan sê het omdat hulle goeie vriende was.
Die klaagster het getuig dat sy die aand van 8 Februarie 2020 op pad was na ‘n vrouekroeg toe sy die beskuldigde langs die pad gekry en saam met hom gestap het.
Sy ontken dat hy vir haar ‘n mes gegee het om te hou of saam met hom gedrink het. Sy het wel later die aand saam met hom huis toe gestap omdat hulle in dieselfde buurt woon.
Isaacs het toe glo by ‘n huis ingedraai en haar geroep omdat ‘n vrou in die huis haar wou sien. Daar was egter niemand in die huis en Isaacs het haar op ‘n bed neergegooi, haar mond toegedruk en twee keer verkrag.
Sy het haarself stukkend gekrap toe sy probeer het om sy hande weg te kry en belowe om nie te skree indien hy nie verder haar mond toedruk nie.
Die klaagster se moeder het getuig dat sy kaalvoet, huilend en met ‘n geskeurde rok by die huis aangekom en haar meegedeel het dat Isaacs haar verkrag het. Sy het dieselfde storie ook kort daarna aan twee polisielede vertel. Albei het getuig dat sy baie geskok en emosioneel voorgekom het. Sy het wel na drank geruik maar was nie dronk.
Isaacs het Woensdag getuig dat dit eintlik die klaagster is wat hom na die betrokke huis geroep het omdat sy vir haar tik wou gaan koop. Dit was ook die eerste keer dat hulle alleen bymekaar was.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, vra vir skuldigbevinding op albei aanklagte omdat die klaagster haar nie weerspreek het nie en daar geen redes is waarom die staatsgetuies se getuienisse nie aanvaar kan word nie.
Isaacs se regsverteenwoordiger, Cindy Murray-Smith, het vir sy vryspraak gevra. Volgens haar het die staat nie daarin geslaag om sy saak bo redelike twyfel te bewys nie. Daar is volgens haar geen rede waarom die beskuldigde se weergawe nie geglo kan word nie.
Streeklanddros Sylvia Mandla sal op 25 Oktober uitspraak lewer.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'