OUDTSHOORN NUUS - 'n Groot eer het die bekende EDENfm-radioaanbieder, Sebastian Coledridge (49), te beurt geval toe hy verlede Sondag sy Protea-kleure vir potspel ontvang het.
Boonop is Coledridge ook gekies as 'n speler/bestuurder van die senior Suid-Afrikaanse Swartbal Federasie-span wat volgende week vanaf 26 Maart tot 8 April in Engeland Bridlington South Yorkshire aan die EBA- nasiebekerpotspelkampioenskappe gaan meeding.
Coledridge sê dat hy in sy wildste drome nie verwag het dat hy eendag nasionale kleure in dié sportsoort sou behaal nie.
"Kyk, ek het in my laat twintigs besluit om die spel 'n go te gee, en van toe af, het ek dit vreeslik geniet. Na 'n paar jaar vind ek uit dat ek nogal goed is en dat my teenstanders gereeld harde bene teen my kou - dis toe dat ek die sport meer ernstig begin opneem het. Vandaar het ek by potspelklubs begin aansluit en amptelik kompeterend begin speel en die res, soos hulle sê, is geskiedenis."
Coledridge vertel verder dat sy paadjie na die Protea-span ietwat van 'n wye draai geloop het omdat Eden-streek nie 'n afdeling vir sy ouderdomsgroep gehad het nie. Hy het egter toestemming verkry om vir die Kaapse Wynlande-potspelspan gedurende die nasionale proewe te speel en daar het hy sy man behoorlik gestaan teen die beste skerpskutters in die land.
Volgens Coledridge het hy ook eers verlede jaar vir die eerste keer in sy loopbaan kompeterend snoeker begin speel. Hy verduidelik dat snoeker en potspel hemelsbreed verskil omdat by potspel jy volgens kleure die balle in die gate moet pot en dan die swart bal heel laaste om te wen. Behalwe dat die tafel by snoeker baie groter is, wen die speler wat die meeste punte insamel, die wedstryd.
Op 'n vraag watter vaardighede hom so 'n goeie speler maak sê hy dat jy die basiese tegnieke eers goed moet baasraak en daarna kan jy begin fancy raak.
In die verband sonder hy vir Deon Floors (Protea-spanmaat) uit wat volgens hom sy mentor is. Op internasionale vlak beny hy die Engelse snoekerspeler Ronnie 'O' Sullivan se jare lange fenomenale spel.
"Ek het bitter vroeg in my loopbaan geleer dat as jy op 'n gereelde basis sukses teen die groot honde wil behaal, jy ewe goed moet verdedig en kan aanval. Die posisionering van jou wit bal na elke skoot is uiters belangrik, want dit gaan die moelikheidsgraad bepaal van jou volgende hou. Ek is nou al op daai vlak dat wanneer die balle aan die begin van die wedstryd gebreek word, ek onmiddellik 'n prentjie in my brein vorm van hoe ek kan wen, al lê die balle hoe verspreid op die tafel," sê Coledridge.
Hy voeg by dat die mees belangrikste aspek van die spel jou geestelike ingesteldheid is.
"Potspel en snoeker is 'n mental game, want jy gaan baie ouens kry wat negatiewe goed langs die tafel gaan sê van jou spel en wedstrydbenadering - jy moet jou net nie steur nie en jou swakpunte so gou moontlik identifiseer deur kliphard te oefen. Dis waar geestelike selfvertroue inkom omdat jy dan innerlik weet jy beskik oor die nodige vaardigheid om sekere moeilike houe sonder moeite te kan pot. Op die einde van die dag is dit net jy en jou stok - niks anders."
Coledridge sê dat sy opname in die Protea-span 'n bewys aan spelers en die jeug is dat jy die hoogste vlak kan bereik ongeag jou ouderdom indien jy gedissiplineerd en passievol is. Hy beoog om in die nabye toekoms sy eie gebou te huur waar hy die jeug kan oplei in die fynere kunsies van die spel. Hy vertel dat die potspelgogga ook sy seun gebyt het en dat dié reeds in die Eden-span opgeneem is.
Morné Pietersen, stasiebestuurder van EDENfm, het gesê dat al die luisteraars tesame met die radiostasie ontsettend trots op Coledridge se prestasie is.
"Om jou land op internasionale vlak te verteenwoordig, sit nie in enige een se broek nie en namens die radiostasie, wil ek hom alle voorspoed toewens met die toernooi in Engeland. Die luisteraars gaan sy stem verskriklik mis, maar ons gun hom die wegbreek. En natuurlik sal ons die luisteraars gedurig op hoogte hou van sy vordering gedurende die toernooi," het Pietersen belowe. Pietersen het ook bevestig dat EDENfm 'n finansiële bydrae tot Coledridge se uitgawes vir die reis na Engeland sal maak.
Uitdagings
Die Suid-Afrikaanse rand-geldeenheid verhandel tans teen R22,08 teen die Britse pond wat sy reis na Engeland aan die duur kant maak.
Enige instansie wat Coledridge se uitgawes finansieel wil ondersteun, kan hom by 078 038 0313 kontak.
Coledridge maak gereed om 'n bal te pot.
Coledridge agter die mikrofoon by EDENfm soos lesers hom vir jare ken.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'