TUINROETE | KAROO NUUS - SA for Hope is tans besig met 'n insameling vir hulle volgende uitreik na boere in droogtenood wat op Saterdag 25 Maart plaasvind.
Die uitreik is na Kleynshoogte in die Klein-Karoo, ongeveer 50 km vanaf George.
"Hierdie groepie boere is op hulle knieë. Hulle kon agt jaar laas plant en is totaal afhanklik van reënwater. Daar is 54 gesinne wat boere en hul werkers insluit wat dringend hulp nodig het," sê Pieter du Plessis, hoof van SA for Hope.
"Kospakkies, water en voer is prioriteit. Ek wil die publiek van George vra om ons te help om 'n verskil te maak in hierdie gemeenskap. Indien mense weet van plekke waar ons voer, kruideniersware, honde- en katkos en selfs toiletpapier kan kry, vra ons dat hulle ons asseblief laat weet. Ons nooi besighede om saam te gaan op hierdie uitreik sodat hulle eerstehands kan ervaar hoe sleg dit werklik gaan. Hulle kan dan ook sien waarheen hulle donasies gaan en die waardering in die ontvangers se oë self ervaar."
Kleynshoogte is van die gebiede wat die swaarste getref is deur die voortslepende droogte. Een van die boere sê wanneer daar reën in daardie rigting kom, mis dit hulle of hulle kry bittermin, net genoeg om die veld mooi te maak.
Daar is boere wat geen plaaswerkers meer gebruik nie, of wat hulle net laat werk wanneer hulle nie self kan nie. Die werkers bly nog op die plaas, maar het baie min tot geen inkomste nie.
Diere moet ten duurste gevoer word met lusern wat ingekoop word omdat daar nie genoeg water is om self te produseer nie. Die boere moet die Kammanassie-besproeiingsraad steeds elke maand betaal, al kry hulle nie al die water waarop hulle geregtig is nie. Die dam is te leeg en dus word bitter min uitgelaat vir boere se gebruik.
Du Plessis sê van die gesinne verkoop al voertuie. Ander is pensioenarisse wat 'n huishouding met 'n karige pensioen aan die gang probeer hou. "Hierdie mense kort dringend hulp."
Gholfdag
SA for Hope bied op Saterdag 1 April 'n gholfdag aan op die Glenwood-gholfbaan waar 'n Renault Kwid gewen kan word met 'n kolskoot op die 12de putjie, en R100 000 met 'n kolskoot op die 17de putjie.
Die baan is amper vol bespreek, maar belangstellendes kan Du Plessis nog kontak indien hulle wil speel. "Ons het nog plek vir maatskappye wat wil borg en hulle produk wil ten toon stel.
"Alle geld wat ingesamel word, gaan vir droogtehulp," sê Du Plessis.
Sy kontaknommer is 076 844 6435.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'