OUDTSHOORN NUUS - Die Rust en Vrede-waterval is weer, na ses maande, vir die publiek toeganklik.
Aurelia Oliphant, woordvoerder by die Oudtshoorn-munisipaliteit, sê: "Nadat Rust en Vrede-waterval vir meer as ses maande vir die publiek gesluit was, kan besoekers weer die natuurskoonroete gebruik om by die waterval uit te kom."
Die toegangspad, wandelpad en voetgangerbrug, wat deel uitmaak van die roete na die waterval, het in April 2017 deur 'n flitsvloed in die Swartberge aansienlike skade opgedoen.
Na hierdie vloed moes die waterval gesluit word aangesien die terrein ontoeganklik was.
Uitvoerende burgemeester, Colan Sylvester, sê: "Die sluiting van die waterval was nie net 'n finansiële verlies nie, maar dit het ook toeriste die geleentheid ontneem om hierdie attraksie te verken en te ervaar."
Rust en Vrede waterval is 35 km buite Oudtshoorn geleë, waar op 'n grondpad grensend aan die Raubenheimerdam langs gery moet word en dan 'n wandelpaadjie gevolg moet word om by die waterval uit te kom.
'n Gedeelte van die paadjie waarvandaan die waterval besigtig kan word.
"Dit het die munisipaliteit meer as ses maande geneem om die pad te herstel. Voorheen was die pad klipperig en ongelyk.
"Dit is nou in 'n baie beter toestand en meer gangbaar vir enige tipe voertuig. As u 'n lui middag het, ry deur na die skilderagtige plekkie wat u na 'n pragtige uitsig van die waterval sal lei," sê Sylvester.
Die waterval is elke dag van die week oop vanaf 09:00 tot 16:30. So ook op Kersdag. Toegangsfooie is as volg per voertuig:
• 16+ persone – R226,00
• 7-16 persone – R87,00
• 1-6 persone – R57,00
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'