OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Bridgton, wat 'n nierlyer van sy medikasie en klere beroof het, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis.
Die 29-jarige Aubrenay Afrika het die oggend van 29 Oktober 2018 vir André Jacobs, wat van die hospitaal onderweg was huis toe, met 'n lang mes gedreig en twee vriende aangesê om hom uit te trek.
Hulle het sy tekkies van R1 000, broek, sweetpakbaadjie, kouse en sy medikasie gevat en daarmee weggehardloop. Jacobs is in sy onderklere na die polisie om die saak aan te meld.
Die staatsaanklaer Hyron Goulding, het vir die minimum vonnis van 15 jaar gevangenisstraf vir roof met verswarende omstandighede gevra.
Jacobs het Afrika geken omdat hulle voorheen in dieselfde straat gewoon het, saam gespeel en saam skoolgegaan het. Afrika het nie skuld erken nie en die hof se tyd gemors ten spyte van verdoemende getuienis teen hom, het Goulding betoog. Verder het Afrika 16 vorige veroordelings en het vorige vonnisse hom nie afgeskrik om weer 'n ernstige misdryf te pleeg nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni, het egter bevind dat daar wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om af te wyk van die voorgeskrewe vonnis. Afrika toon egter geen berou nie.
Sy het Afrika aangeraai om gebruik te maak van die geleenthede wat die gevangenisowerhede bied en 'n vaardigheid aan te leer sodat hy as 'n beter man uit die tronk kan kom.
Sy het Afrika tot tien jaar tronkstraf gevonnis en ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'