OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se Rotariërs het hul missie om 'n verskil te maak, gestand gedoen toe hulle André du Toit, beter bekend as the big positive guy, genooi het om 'n motiveringspraatjie tydens 'n funksie in Oudtshoorn te lewer.
Die funksie was Donderdagaand 24 Augustus by die Rotariër-aftreeoord.
Suné Rupping, president van die Oudtshoorn Rotariërklub, sê: "Die idee van die aand was 'n sosiale bymekaarkom geleentheid en om die lewe so bietjie in perspektief te plaas en nie so vas te staar in net die negatiewe van jou lewe en die land nie."
Du Toit het aan die gaste gesê: "As 'n suksesvolle sakeman wat aan die hoof van groot organisasies oral oor die wêreld was, is ek bly om terug in Suid-Afrika te kan wees.
"Ek wil 'n bydra lewer om 'n positiewe verskil in ons ongelooflike land te maak. Met my terugkeer was ek was baie verbaas om 'n gees van negatiwiteit op te tel onder Suid-Afrikaners."
"Om positief te wees is iets op sy eie. Dit moet ondersteun word deur 'n standvastige plan van aksie. Eerder om in 'n atmosfeer van negatiewe nuus te verdrink, moet ons die baie positiewe projekte om ons raaksien en deel daarin. Almal het 'n verantwoordelikheid daartoe, al is dit hoe klein."
Rupping het na Du Toit se praatjie, gesê: "Die boodskap wat ek daaruit gekry het is dat elkeen verantwoordelik is vir jou eie geluk. Dit is so maklik om vas te kyk in die negatiewe en as jy fokus op die negatiewe sien jy later net dit raak.
"Daar is 'n klein goedjies wat ons as vanselfsprekend sien waarvoor ons so dankbaar en bevoorreg moet wees."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'