KANNALAND NUUS - Brandbestryders van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (GRDM) in samewerking met die Kannaland-munisipaliteit se brandbestryders het die afgelope week vroeë rookopsporingstoestelle in wonings in Varkieskloof, ‘n informele nedersetting in Ladismith, geïnstalleer.
Volgens Merillia Veldkornet, woordvoerder van die GRDM, sal 700 toestelle deur die GRDM in Kannaland geïnstalleer word.
"Die buite gebiede soos Calitzdorp en Van Wyksdorp sal ook later volg. Daar word verwag dat die projek minstens drie maande sal neem om te voltooi."
Sy sê die rookopsporingstoestelprojek het vroeër vanjaar begin toe GRDM 1 368 rookverklikkers in Qolweni en Bossiesgif informele nedersettings in die Bitou munisipale gebied geïnstalleer het, nadat verskeie informele strukture deur brande vernietig is, wat tot die dood van drie inwoners gelei het.
"Die GRDM se rampbestuur en brand- en reddingsdienste bestuur en implementeer die projek. Oor die afgelope twee weke is ±178 rookverklikkers geïnstalleer met die fokus op strukture in die landelike nedersetting. Om ‘n rookverklikker in die huis te hê, waarsku nie net inwoners van die teenwoordigheid van rook nie, maar red ook lewens en verminder eiendomskade."
Foto's: Rookverklikkers word deur brandweerbeamptes geïnstalleer.
Foto's: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Kannaland, Karoo nuus'