OUDTSHOORN NUUS - Lede van die buurtwag en inwoners in Wesbank is radeloos met die toename in diefstalle en inbrake.
Volgens inwoners is dit algemene kennis dat talle mense in die bosse langs die Grobbelaarsrivier woon en dat baie misdade van daar af gepleeg word.
Die buurtwag het dus Saterdag besluit om een gedeelte van die rivier tussen Vrede- en Albertstraat te fynkam. Wat hulle gevind het was skokkend. Hulle het op ten minste twee plekke afgekom waar mense permanent woon. Die besoedeling en menslike ontlasting was ongelooflik volgens een van die lede.
"Dit is duidelik dat verskeie gesteelde items hier uitmekaargehaal en weggesteek word. Daar was vroueklere, skoene, juweliersware en stukke van elektroniese aparate om van die gemors nie te praat nie."
Volgens die groep het hulle van die mense wat daar bly gewaarsku dat hulle die gebied gereeld gaan besoek en opruim. "Dit is onaanvaarbaar dat hierdie plek reg langs n waterbron so misbruik word en die owerhede laat dit toe. Ons gaan dit nie verder duld nie," het een van die inwoners gesê.
Die Oudtshoorn Courant het vanoggend navrae oor die kwessie aan die polisie en die munisipaliteit gestuur en sal meer volledig in hierdie week se uitgawe daaroor berig.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'