OUDTSHOORN NUUS - Rou riool wat in die Grobbelaarsrivier beland en by mangate op privaat grond uitvloei, het inwoners en sakemense langs Langenhovenweg moedeloos. André Claassen, eienaar van Smitswinkel in Langenhovenweg, het Maandag gesê hy sit met sy hande in sy hare. Volgens hom en ander inwoners oorstroom rou riool daagliks - en veral soggens en as dit reën - dele van hulle eiendom.
Met 'n besoek van die Oudtshoorn Courant Saterdag, is bevestig dat riool nie slegs uit mangate vloei nie, maar ook deur 'n afvoerpyp in die rivier beland. Die riool vloei in 'n groot gat wat op die oewer van die rivier gegrou is.
Volgens Claassen het die riool groot gesondheidsrisikos vir die omgewing. "Dit word elke keer aan die munisipaliteit gerapporteer, maar nie opgelos nie. Ek bedryf 'n restaurant met gastekamers."
Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het Woensdag namens die tegniese departement verduidelik: "Al Oudtshoorn se riool vloei na die watersuiweringswerke aan die mees suidelike kant van die dorp. Ons het onlangs ontdek dat die oostelike rioolpyp langs Langenhovenweg verstop is. Dit het tot gevolg dat die riool mangate oorstroom en op privaat grond, asook in die Grobbelaarsrivier uitvloei."
Hy het verduidelik met 'n poging om dit te herstel, is gevind dat die kanaal se muur gekraak het, wat tot gevolg gehad het dat die muur totaal ingegee het.
Die gat op die oewer van die Grobbelaarsrivier waarin riool beland.
Volgens Johan Uys, bestuurder grootwaterwerke, is die munisipaliteit besig met prosesse om 'n geskikte kontrakteur aan te stel om die skade te herstel.
'n Rioolverstopping wat die afvloei daarvan na die Oudtshoorn-gholfbaan tot gevolg gehad het, het ook twee weke gelede nuus gemaak. Hierdie probleem is kort na die Oudtshoorn Courant daaroor berig het, herstel.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'