PRINS ALBERT NUUS - Prins Albert se topuitvoerproduk, die riel-dansgroep Prins Albert Vastrappers, het verlede naweek uitstekend gevaar in die kwarteindronde van die Nasionale ATKV-Rieldanskompetisie wat op Vredendal gehou is.
Ruthan Sass (11) is aangewys as die beste rieldanser in die o.14-groep; die o.14-dansers (vier seuns en vier meisies) van die groep van 22 Vastrappers is aangewys as die beste o.14-dansers van die dag; en Sara van Rooi, afrigter van die Vastrappers, het die prys gewen as beste liedjieskrywer .
Die span het nou deurgedring na die half-eindstryd wat op 28 Oktober op Clanwilliam plaasvind.
Nog rieldansers uit die streek wat uitmuntend gevaar het, kom uit Laingsburg – dit is die Kuierkraal Rieldansers (4de, o.20) en die Vloed Rieldansers (5de, seniors).
Volgens Denise Ohlson, stigter en bestuurder van die Vastrappers, het 26 spanne aan vanjaar se kwarteindronde deelgeneem.
Prins Albert se o.14 dansers is een van tien spanne wat in hul ouderdomsgroep deurgedring het na die Clanwilliam-deelname.
Van Rooi het aan Oudtshoorn Courant gesê sy was verras en verheug dat haar Rooirok-Mieta van die Lap as beste liedjie aangewys is, met Ruthan en die o.14-rooirokkies wat dit so mooi gedans het om die kroon te span.
"Ons is trots op ons prestasie vanjaar, as in ag geneem word ons is maar so twee jaar hier op Prins Albert aan die gang, en dis nou die eerste keer dat ons op aan hierdie baie groot kompetisie deelneem."
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'