OUDTSHOORN NUUS - Ten spyte van welkome reën wat die afgelope naweek geval het, is dit steeds nie genoeg om boere te help nie.
Volgens Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, was vanjaar se winterreën weer ondergemiddeld en nie genoeg om die landbou uit sy droogtetoestand te kry nie.
"Die reën van die afgelope naweek was feitlik net teen die kus af met baie min en wisselvallige reën in die gebiede waar landbouers vir goeie neerslae duimvas gehou het.
In die kritieke droë Oudtshoorn-omgewing en Kannaland-distrik het produsente tussen 3 mm en 15 mm gemeet, in die Prins Albert- en Merweville-omgewing tussen 4 mm en 5 mm en in die Beaufort-Wes-omgewing tussen 2 mm en 5 mm," het hy gesê.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het daar ongeveer 24 mm reën in en rondom Oudtshoorn geval.
Riaan Krüger van die Stompdrift-Kammanassie-landelike watervereniging sê daar is steeds geen invloei by die Stompdrift- en Kammanassiedam nie en is hulle in 'n desperate situasie omdat die besproeiing vir boere uit dié twee damme kom.
By Stompdrift het daar 11 mm reën geval en by Kammanassie het 17 mm geval.
Een van die huise in Kliplokasie naby Volmoed wat dakloos gelaat is deur die sterk wind.
"Daar het egter nie veel reën in die opvangsgebiede geval nie."
Nico Jonker, Kannaland se direkteur tegniesedienste, sê in die Ladismith-distrik het daar op 22 September 2,8 mm reën geval en op 29 September 17 mm.
"Daar het heelwat meer reën in die Swartberge geval en die Swartbergrivier loop sterk. Zoar het egter nie juis reën gehad nie. Die Tierkloofdam is nie aangevul nie. Calitzdorpdam het slegs 0,12% gestyg.
Waterbeperkings is steeds ingestel in al Kannaland se dorpe. In 'n belanghebbende watervergadering gehou op 27 September is maniere bespreek met verskeie belange groepe om watervoorsiening aan Ladismith dorp en boere wat leibeurte kry uit Swartbergrivier, se water toevoer te verbeter en die moontlikheid van 'n keerwal met pyplyn tot by bestaande uitkeerpunt word ondersoek, maar sal afhang van 'n omgewingstudie."
Huidige damvlakke:
- Raubenheimerdam: 37,84%
- Melvilledam: 100%
- Kammanassiedam: 3,5%
- Stompdriftdam: 7,3%
- Calitzdorpdam: 14,62%
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'