OUDTSHOORN NUUS - Die droogte van die afgelope drie jaar het Agri Klein Karoo-streeklandbouorganisasie van Agri Wes-Kaap, genoop om 'n droogterampfonds vir boere in die Klein-Karoo te skep.
"Die Klein Karoo Disaster Relief is 'n onderneming sonder winsbejag en is geskep met die doel om boere wat nie meer geld het om vir hul diere voer te koop nie, by te staan," sê Laubscher Coetzee, boer van Volmoed en Agri Klein Karoo (AKK) se verteenwoordiger by Agri Wes-Kaap.
Volgens hom is die hulp bestem vir boere op plase waar dit die afgelope twee jaar glad nie gereën het nie en geen natuurlike of aangeplante weiding oor is nie.
"Die droogtehulp is nie net vir lede van georganiseerde landbou nie, maar vir alle boere, insluitend opkomende boere, wat in die moeilikheid is omdat hulle nie meer voer vir hul vee oor het nie. Ons kan nie toelaat dat diere vrek van die honger nie."
Coetzee sê individue en instansies, soos kerke op dorpe in die Klein-Karoo, Eden en elders in die land nader AKK deurlopend met 'n aanbod van skenkings.
"Ons het reeds twee vragte gras vir ruvoer van boere in Amersfoort in Mpumalanga ontvang."
Volgens Coetzee word alle droogtegeteisterde boere versoek om deur die landbouverenigings in die verskillende gebiede aansoek te doen vir voer.
Die nie-winsgewende maatskappy is geregistreer as Karoo Disaster Relief NPC, handeldrywend as Klein Karoo Disaster Relief (KKDR) .
"Die bestuur van die fonds gaan deur Klein Karoo Disaster Relief in samewerking met Agri Klein Karoo, Acker & Maloney Ing. en Relief.Life bestuur word," sê Johan Potgieter, geoktrooieerde rekenmeester by Acker & Maloney Ing. wat die registrasie hanteer het en mededirekteur van KKDR.
"Ons gebruik Relief.Life Disaster Management Trust, wat in Kaapstad gebaseer is, vir hul belastingvrye status, wat beteken dat alle donasies aan Relief.Life afgetrek kan word vir belasting.
Persone en organisasies wat skenkings wil maak of enige inligting verlang kan kontak maak met Helen Butler by AKK se kantoor by info@agrikleinkaroo.com of 044 279 1425 of met Laubscher Coetzee by 082 898 5941.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'