OUDTSHOORN NUUS - "Vergewis jouself van korrekte inligting en feite, volg die riglyne wat aangeraai word en moenie paniekerig raak nie."
Dit is die belangrikste boodskap wat dr. Wessel Vermeulen, 'n algemene praktisyn op Oudtshoorn, wil oordra aan mense wat gespanne is oor die Covid-19 epidemie wat tans die ganse wêreld ontwrig.
Volgens hom is die regering en gesondheidsowerhede se hantering en monitering van die situasie "uiters professioneel en indrukwekkend".
"Met die epidemie het ons regering gewys waartoe hulle werklik in staat is. Die voorsorgmaatreëls wat getref is en die manier waarop hulle dit hanteer en mense op gereelde basis inlig oor wat aangaan , is fantasties."
Hy is ook baie beïndruk met die goeie samewerking en koordinasie tussen die staat-en-privaatsektor en sê dit kan net goed voorspel vir die hantering van ander mediese krisisse en probleme in die land.
Hy het ook verder bygevoeg dat die privaathospitale, mediese fondse, S.A Mediese Vereniging en privaat geneeshere geweldig baie samewerking, inligting en ondersteuning tot beskikking stel.
Veral algemene praktisyns kommunikeer op daaglikse basis met die nuutste inligting en pasiënte word ten sterkste aangeraai om eerder as om op histeriese uitsprake te reageer, met hulle huisdokter te gesels.
Die Suid-Kaap is in besonder geseënd met n baie breë basis van uiters bekwame geneeshere sowel as netjiese goed-toegeruste hospitale en klinieke en pasiënte kan eerlikwaar gerus voel oor hulle gesondheid.
Basiese beproefde voorsorgmaatreels, wat uiters effektief deur die media en regering in veldtogte versprei word, is voldoende.
Deeglike was van hande, ( gewone seep en water is ook goed, nie nodig vir aankoop van duur produkte en liters antiseptikums nie)
Vermy groot groepe
Moenie aan jou gesig raak nadat jy aan ander items geraak het nie
Moenie onnodig aan mense vat en hande skud nie.
Leef gesond, slaap en ontspan genoeg en eet gesonde , voedsame kos , veral vars vrugte en groente –dit is nie nodig om duur tonikums , ekstra vitamine-aanvullings en allerhande onbewysde foefies te gebruik nie.
Vermeulen sê verder dat nie alle persone van oorsee die virus het nie en sekere drakoniese maatreels wat deur oningeligte mense en instellings aan die publiek opgelê word, is nie noodwendig nodig nie..
"As die persoon , wat uit hoë risiko gebiede kom, geen simptome van die siekte het nie , hoef hulle nie bloedtoetse te ondergaan nie. Daar moet aan sekere kriteria en simptome voldoen word voor die bloed getoets hoef te word. Indien daar twyfel oor die siekte bestaan ,moet die pasiënt onder self-kwarantyn vir 14 dae geplaas word (of, indien simptome ontwikkel ,verder evalueer word.)
Simptome waarop veral ag op geslaan moet word is die kombinasie van 'n seer keel, droë pynlike hoes met benoudheid en koors.
"As jy net nies, loopneus en sinusitis met 'n natterige hoes het,het jy waarskynlik griep of 'n eenvoudige verkoue of brongites."
Indien iemand vermoed dat hulle wel besmet is moet hulle onverwyld met hulle huisdokter, of die privaat- en provinsiaal hospitale se persone in beheer van die epidemie - die Nasionale Instituut vir Oordraagbare siektes by 0800 029 999 of die Provinsiale Blitslyn by 021 928 4102 skakel.
"Hulle sal vir jou verdere riglyne gee oor waarheen om te gaan om getoets te word. Indien jy nie die simptome het nie ,gaan jy nie getoets word nie. Die " toetsmateriaal se voorraad raak drasties minder en indien jy jouself onnodig laat toets, weerhou jy iemand wat dalk regtig die toets nodig het , om dit te kry."
Die dra van gesigsmaskers in die openbare gebiede vrywaar jou nie van infeksies nie. Gesigsmasker is meer nodig vir reeds besmette persone sodat hulle nie die virus verder versprei nie.
Mense moet ook onthou dat die meeste gebiede waar die virus tans floreer in die Noordelike Halfrond is waar dit nou winter is en veral Europa ,'n baie nat en koue winter beleef. Verder is die hoë risiko gebiede ook dig bevolk en hulle hanteer miljoene meer mense op lughawens, moltreine en openbare vervoer. Dit maak nie dat ons minder voorbedag en paraat moet wees nie , maar is tog in n mate, veral in die Suid-Kaap gerusstellend.
Dr Vermeulen beklemtoon dat mense asseblief nie allerhande fopnuus , mites, vals bewering en aansprake moet glo en versprei nie. "Praat met jou dokter of hospitaalpersoneel wat in die voorlinies van die siekte werk!"
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'