LEEU-GAMKA NUUS - 'n Man (28) en vrou (21) het dié week in die Prins Albert-landdroshof verskyn nadat hulle op 26 September met R880 000 se dagga in hulle besit gevang is.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die verdagtes op die N1 aangekeer.
"Die verdagtes is tydens 'n padblokkade op die N1 naby Leeu-Gamka gearresteer. Die Hyundai-minibus waarmee die verdagtes gereis het, is afgetrek en die voertuig is deursoek. Lede van die provinsiale verkeer het 35 sakke dagga wat binne die voertuig was, gevind. Die verdagtes was op pad na Kaapstad."
Volgens Pojie was die doel van die padblokkade juis om dwelmverspreiding tussen provinsies hok te slaan.
'Ons bring jou die nuutste Leeu-Gamka, Klein Karoo nuus'