PRINS ALBERT NUUS - Lede van die polisie het verlede Vrydag dwelms ter waarde van R3 miljoen op die N1 naby Prins Albert gevind.
Volgens sers. Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaapse polisie, het lede van die blitspatrollie voertuie op die N1 deursoek en 'n Nissan NP200-bakkie afgetrek.
"Die lede het met die deursoeking gesien dat daar aan die kant van die bakkie gepeuter is. Hulle het die sykant van die bakkie verwyder en 'n kompartement met Tupperware-bakkies met tik in gevind. Die polisie het 8,64 kg tik gevind en die bestuurder in hegtenis geneem. Die lede het ook R13 000 kontant gevind."
Volgens Spies dui die ondersoek daarop dat die dwelms vir De Doorns bestem was. Die 36-jarige verdagte het die week in die hof verskyn.
Lt.genl. Thembisile Patekile, Wes-Kaapse polisiekommissaris, het die lede geloof.
"Die strategie van die blitspatrollie om die dorpe se in- en uitgange te kontroleer werp vrugte af. Hulle het 'n groot impak op dwelmhandel gemaak met die konfiskering van hierdie dwelms," het hy gesê.
Die dwelms wat in die bakkie gevind is.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'