KLEIN KAROO NUUS - Nog R10 miljoen vir die aankoop van voer is deur die Wes-Kaapse regering vir veeboere bewillig. In 'n mediaverklaring wat verlede week uitgereik is, sê dr. Ivan Meyer, provinsiale minister van landbou, koopbewyse ter waarde van R10 miljoen is aan 1 727 boere wat onder die kwaai droogte ly, voorsien.
Die gebiede wat deur die hulp geraak word is Sentraal- en Klein-Karoo, Kaapse Wynland, en dele van Matzikama.
Volgens Meyer het die Wes-Kaap die afgelope ses jaar ongeveer R241 miljoen se koopbewyse vir die aankoop van voer aan droogtegeteisterde boere gegee.
Meyer het sy dank en waardering uitgespreek teenoor die landbousektor wat ten spyte van die ergste droogte in 100 jaar en die Covid-19-pandemie, steeds vir voedselsekerheid in die provinsie sorg. In die mediaverklaring het hy ook riglyne en protokol verskaf vir die vervoer van seisoenwerkers sowel as om die veiligheid van werkers in die werksplek te verseker.
Hierdie inligting is vir boere beskikbaar by http://www.elsenburg.com/sites/default/files/FAQ-COVID-19-Version7.pdf
Volgens 'n veeboer in die Oudtshoorn-omgewing is R10 miljoen gedeel deur 1 727 boere, nie 'n groot klomp voer nie, maar hy sê elke stukkie hulp wat hulle kry word opreg waardeer.
Beeste op 'n plaas in die Kannaland-distrik. Foto's verskaf
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'