OUDTSHOORN NUUS - Bouplanne om die huidige Queen's-winkelsentrum teen 'n koste van R30 miljoen uit te brei is reeds op 26 Februarie deur die stadsraad goedgekeur.
In 'n mediaverklaring wat gister deur die munisipaliteit uitgereik is, sê Ntobeko Mangwengqwe dat die burgemeester, Chris Macpherson, bevestig het dat die munisipaliteit besig is met diensleweringsooreenkomste met VESTSEC TEN (PTY) Ltd, die nuwe eienaars van die hele sakekompleks.
Die uitbreiding sal op die huidige parkeerarea van die sentrum plaasvind en die area agter die biblioteek en die museum, wat tans as onontwikkelde parkeerarea gebruik word, sal ook ontwikkel word.
Volgens Mangqwengqwe sal die beplande uitbreiding van die winkelsentrum 'n area van 2 244m² dek.
Die munisipaliteit behou die eiendom agter die biblioteek wat in 'n parkeerarea omskep word en sal dit kan gebruik indien die munisipale geboue soos die biblioteek, moet uitbrei.
Volgens die ooreenkoms sal VESTSEC TEN (PTY) Ltd na die ontwikkeling die verantwoordelikheid van onderhoud van stormwaterpype en padoppervlaktes op die areas by die munisipaliteit oorneem en dit op hulle eie koste onderhou.
Macpherson het gesê hulle vertrou dat die uitbreiding en ontwikkeling van die winkelsentrum welkome ekonomiese verligting vir inwoners van Oudtshoorn sal bring.
"Ons vertrou dat hierdie ontwikkeling nog meer beleggers na Oudtshoorn sal lok."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'