CALITZDORP NUUS - Die vierde Art on Track-kunsuitstalling en -kompetisie het Vrydagaand by die Calitzdorp-stasie se ruim goedereloods geopen. Vanjaar se tema is 'Water'. Die uitstalling duur tot Sondag 12 Augustus. "Sowat 60 inskrywings is ontvang, maar nie al die werke het betyds opgedaag nie," sê Sandy Chaitowitz, kunstenaar wat Art on Track organiseer.
Die 54 werke wat wel as deel van die kompetisie uitgestal word, is wyd uiteenlopend wat tema, medium, kwaliteit en professionaliteit betref. Bekende name is onder die inskrywings, maar sommige van die onbekende kunstenaars se werke het ook besonder verras.
Lizel van Dam se yslike vis van lap, getiteld Vis van Dam is beslis die inskrywing wat met die opening die meeste belangstelling ontlok het. Marcia Vermaak, voorheen 'n stelbouer wat Calitzdorp toe verhuis het om nader aan die natuur te leef, se manjifieke meermin, wat van herwonne plastiek vir die Winterfees gebou is, is 'n besondere teenwoordigheid. Vermaak se werke wat vir die kompetisie ingeskryf is, sluit Angry Fish en Toyi Toyi in. Van haar vroeër werke, soos die Melting Men en drie van haar maskers uit die AfrikaMask-reeks, vorm deel van die uitstalling.
Ander bekende name sluit onder andere Doris Brand, Marinda Combrinck, Ryno Cilliers, Irma Welman, Chris Buchner, en Jay Gerber in.
Naas die kompetisiewerke, wat in die middel van die venue vertoon word, is daar ook talle uitstallers wie se werk nie vir die kompetisie ingeskryf is nie. Ook hier wissel die kwaliteit.
Daar is ook 'n aantal kunswerke van leerders. Die beste skoolinskrywing sal 'n geskenkpak van PNA ontvang.
Marita Bezuidenhout, wat onder die naam Sophia Seegers skilder, was onder die sowat 100 besoekers wat die opening bygewoon het. Sy het oor die naweek 'n werksessie in akrielverf by die Dorpshuis aangebied.
Janine en Kevin Roe, die Mad Hatters, het gesorg vir musikale agtergrond, en het saam met die plaaslike kelders se uitsoekwyne en snoephappies wat kunstenaars verskaf het, gesorg vir 'n heerlike atmosfeer.
Die beoordelaars van die kompetisie, Diane McLean van De Rust, Anton Bosman van Midrand, en Geoff Grundling, voorheen verbonde aan die Universiteit van Kaapstad se Kunsdepartement, sal gedurende die week die werke beoordeel.
Die uitstalling sal elke dag tussen 10:00 en 16:00 oop wees. Die wenner word 18:30 op Vrydag 11 Augustus aangewys en die werke word dan opgeveil.
Kontak Sandy Chaitowitz by sandy.chaitowitz@gmail.com, Erina Meiring by 044 213 3775 of tourism@calitzdorp.org.za of Mike Muuren by 083 285 4751 of info@calitzdorp.net vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'