Sonder betroubare vervoer kan die personeel egter nie hul take verrig nie, vertel Alie Killian en Jeremy Vermeulen, onderskeidelik tesourier en voorsitter van die Triomf Jeugsorgsentrum. Daar is tot onlangs nog voortgesukkel met `n bussie wat sy einde vinnig genader het.
"Ons moes maar oë toeknyp en `n nuwe bussie aanskaf," het Vermeulen gesê.
Die bussie is `n kerngedeelte van die sentrum se daaglikse bedrywighede en word gebruik om kinders daagliks na en van die skole te vervoer, kos aankope word gedoen, kinders word elke winter- en somervakansie na hulle ouerhuise of na familie vervoer, waarvan sommige sover as Beaufort Wes, Plettenbergbaai en Riversdal woon. Om te verseker dat die personeel, wat 12 uur skofte werk, betyds by die werk opdaag word die personeel tydens die verwisseling van skofte in die oggende en die aande ook vervoer.
"Ons het Projek Wiele geloods om geld in te samel om die bussie te finansier wat reeds aangekoop is," verduidelik Killian. "Projek Wiele behels verskeie maniere waardeur besighede en lede van die publiek bydraes kan maak.
Eerstens is ons op soek na 'n besigheid wat die bussie wil borg met 'n bedrag van R 10 000 tot R 20 000, in ruil daarvoor sal die besigheid se naam op bussie aangebring word, wat dan vir minstens die volgende tien jaar 'n bewegende advertensie vir daardie besigheid sal wees. Besighede wat enige skenking maak kan dit gebruik om sy BBBEE punte te verbeter.
Tweedens is ons opsoek na 75 persone om elk 'n maandelikse bydrae van R 100 per maand te maak vir vyf jaar. Enige ander eenmalige skenkings sal ook aangewend word vir die finansie-ring van die bussie. Alle bydraes en skenkings is volgens Artikel 18A van die inkomstebelastingwet, aftrekbaar van 'n individu se jaarlikse belastingberekeninge. Huis Triomf sal vir alle bydraes en skenkings 'n Artikel 18A kwitansie uitreik."
Persone en besighede wat bydraes wil maak kan Irma Olivier skakel by 044 272 3234 of 082 698 9497. Die voorsitter, Jeremy Vermeulen, kan gekontak word by 082 496 1243 of skakel die tesourier, Alie Killian, by 082 564 5560.
Die kinders en personeel van Huis Triomf by hul splinternuwe bussie. Die gemeenskap kan nou `n bydrae lewer om die sentrum by te staan. Foto: Jacques Swart
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'